TUINROETE NUUS - Suid-Kaapse plaaslike owerhede moet nou besluit oor die voorgestelde naamsverandering van die Eden-distriksmunisipaliteit (EDM) na die Garden Route District Municipality.
Die item sal na verwagting op die volgende Eden-raadsvergadering, einde November, ter sprake kom.
Ses van die sewe B-munisipaliteite het reeds hieroor gestem, terwyl die Knysna-raad nog 'n besluit moet neem.
Sover steun twee munisipaliteite die voorstel.
Daarenteen is die rade van Oudtshoorn en Kannaland gekant teen die voorstel.
Mosselbaai-munisipaliteit wag op klarigheid oor sekere vrae voor 'n finale besluit geneem word.
Die openbare deelnameproses, waartydens inwoners hul mening oor die voorstel kon lewer, het die afgelope Dinsdag, 31 Oktober gesluit.
Is naamsverandering omvattend?
Eden-distriksmunisipaliteit se naam is sowat 16 jaar gelede van die Garden Route/Klein Karoo District Municipality verander.
Die rede wat nou vir die terugkeer na ('n gedeelte van) die vorige naam voorgehou word, is dat die streek met die nuwe naam meer effektief bemark en toerisme beter bevorder sal kan word.
Die naam "Garden Route" is glo meer bekend in die oorsese mark.
Kommer is uitgepreek oor of Hessequa, Oudsthoorn en Kannaland by dié naam ingesluit word.
George steun besluit
Die George-raad het hul steun vir die Garden Route-naam gegee.
Die item is tydens 'n raadsvergadering verlede Woensdag bespreek.
Vanuit die oposisiebanke is daar egter teenstand.
Volgens die ACDP-raadslid, Johann du Toit gaan dit miljoene kos.
"Hulle kan liewer daardie geld gebruik vir behuising," het hy gesê.
Sac-raadslid Basil Petrus het aan die George Herald gesê hy het nie 'n probleem met die Eden-naam nie. "Hulle kan die naam 'n honderd keer verander. As die kapasiteit nie daar is om toerisme te bevorder nie, is name bloot simbolies en sentiment."
Wat sê die streek se rade?
Die Mossel Bay Advertiser se nuusredakteur, Nickey le Roux, berig dat dié kusdorp tydens die raadsvergadering op Donderdag, 26 Oktober, na 'n koukus deur die DA besluit het dat hulle nie onomwonde hul steun vir die naamsverandering toegee nie, maar wag op 'n volledige kosteberaming en klarigheid oor die resultate van die openbare deelname proses wat gevolg is.
Die ACDP-raadslid in Mosselbaai, Jeanette Gouws, het berig dat die EDM 'n kosteberaming van R140 000 vir die naamsverandering by navraag aan haar deurgegee het. Die bedrag is egter nie gespesifiseer nie.
Die Hessequa-raad het hul steun vir die naamsverandering reeds einde September gegee, berig Wilma Adamson, redakteur van die Suid-Kaap Forum.
Hulle ontvang die versoek in beginsel positief en het gevra dat die breë publiek en wykskomiteelede gemotiveer word vir deelname aan 'n volledige openbare deelname proses.
Die Knysna-raad het volgens inligting reeds 'n voorlegging ontvang, maar die item moet nog voor die raad dien. Die volgende raadsvergadering is einde November.
'Nie sonder Klein-Karoo'
Die Oudtshoorn-speaker Julia le Roux het bevestig dat Oudtshoorn se raad die voorstel eenparig verwerp het. Hulle wil hê die Eden-naam moet bly.
Kannaland se munisipale woordvoerder, Ian Avontuur, het bevestig dat hulle raad twee name aanvaar, naamlik die Khoisan-naam "Danaub" en "Garden Route en Klein-Karoo-distriksmunisipaliteit".
"Ons aanvaar nie die Garden Route sonder die Klein-Karoo nie," het Avontuur gesê.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'