MOSSELBAAI TUINROETE NUUS - Lede van die Da Gamaskop-polisie het 'n slag geslaan toe hulle verlede Donderdag, 16 Mei tydens patrolliedienste op 'n dwelmvonds in 'n brandende informele struktuur in die JCC-woongebied afgekom het.
Sersante Vania Hendricks en Ronald Petersen het onmiddellik die Mosselbaai brand- en rampbestuurdienste in kennis gestel, wat spoedig op die toneel aangekom het.
Nadat die brand geblus is, is 'n ontdekking in die puin gemaak en beslag gelê op 3,8kg tik wat in plastieksakkies in kompartemente van die mure en vloer versteek was. Die geskatte waarde van die dwelms is R200 000.
Tydens die voorval is daar ook op 'n paspoort beslag gelê.
Op Vrydag, 17 Mei om 10:50 het 'n Nigeriese burger (34) by die Da Gamaskop-polisiestasie kom navraag doen ten opsigte van sy paspoort wat glo uit sy uitgebrande woning verwyder is.
Die man is in hegtenis geneem vir handel in tik en is in aanhouding. By navraag oor die dwelmvonds, is daarna verwys as "Nigeriese waspoeier".
Die saak word ondersoek deur die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
Enige persoon met inligting ten opsigte van die voorval, word versoek om die Da Gamaskop-polisie te kontak (044 606 2200).
Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word. Positiewe inligting sal goed beloon word.
Nadat hierdie informele struktuur afgebrand het, is versteekte dwelms in die puin gevind.
Hierdie sak is een van die sakke tik wat versteek was en later in 'n informele struktuur wat in die JCC-woongebied afgebrand het, gevind is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'