MOSSELBAAI NUUS - Die publiek is ontstoke nadat booswigte tydens die skoolvakansie 24 tablet-rekenaars en 26 mini-rekenaars asook twee projektors by die St Blaize Primêre Skool in Mosselbaai gesteel het.
Polisiewoordvoerder kapt Wollie Fourie sê boonop is die goedere nuut en nog slegs een keer deur leerders gebruik voordat die skool vir die vakansie gesluit het.
Volgens Fourie het die voorval tussen 14 en 18 Junie gebeur. Hy sê hulle vermoed daar is meer as een verdagte en dat die diewe toegang tot die skool verkry het deur 'n venster by een van die klaskamers te breek. Die verdagtes het daarna deur die plafon van die klaskamer gebreek en so toegang tot ander klaskamers verkry waar nog goedere gesteel is.
Volgens Fourie word 'n groot beloning aangebied vir inligting wat kan lei tot die arrestasie van die verdagtes. "Dit is hartseer want die goedere is aangekoop om vir die opleiding van leerders gebruik te word."
Sosiale media
Mosselbaaier Brendon Seconds het op sosiale media na aanleiding van 'n berig wat die Mossel Bay Advertiser oor die voorval geskryf het, gesê: "Rottweilers en sekuriteitbeamptes kan 'n verskil maak."
Sandri Markgraaff sê: "Ag nee man. Die arme kinders word ook niks gegun deur gewetenlose kriminele nie."
Lynelle Steyn sê: "Iemand moes geweet het van al die nuwe toerusting."
Navrae oor die voorval is na die onderwysdepartement gestuur maar nog geen terugvoer is teen die ter perse gaan ontvang nie.
Fourie sê die gesteelde goedere is ter waarde van duisende rande en enigeen met inligting word versoek om die polisie te kontak by 044 606 2212.
Tablet-rekenaars soortegelyk aan hierdie een is gesteel.
Die agterkant van een van die gesteelde tablet-rekenaars. Die polisie vra enigeen met inligting om na vore te kom en bied 'n beloning aan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'