MOSSELBAAI NUUS - Ses-en-twinting polisielede was die afgelope naweek betrokke by 'n bedekte operasie waartydens op 5 000 mandrax-tablette beslag gelê is.
Die vonds is op Vrydag, 2 Februarie tussen 10:00-11:00 by 'n woning in Terrance Ndandastraat in die JCC-woongebied gemaak nadat lasbriewe om die woning te deursoek, verkry is.
'n Vrou is in hegtenis geneem nadat die tablette in 'n gat in die grond in 'n motorhuis op die perseel gevind is.
Die geskatte waarde van die mandrax-tablette is R250 000.
Lede betrokke by die operasie sluit in die handelstak van die Valke op George, wat ook die saak verder ondersoek, die polisie se openbare orde-eenheid, die Langeberg K9 honde-eenheid en 'n ondersteuningspan van die Da Gamaskop-polisiesonekantoor.
Kolonel Una Saayman, waarnemende bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, was ook betrokke by die operasie en op die toneel ten tye van die in hegtenisneming.
Ses-en-twintig polisielede was betrokke by die bedekte operasie waartydens duisende madrax-tablette in die JCC-woongebied gevind is.Waarnemende bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, kolonel Una Saaymaan staan in die middel.
Sy het die lede bedank vir hulle deeglike optrede en die goeie vonds gemaak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'