MOSSELBAAI NUUS - 'n Man wat so baie alkohol in sy bloed gehad het dat hy beswaarlik kon regop staan, is onlangs deur 'n lid van die Mosselbaai se provinsiale verkeer in hegtenis geneem, toe hy in dié toestand bestuur het.
Maronette (Emmie) van Emmenes, lid van die provinsiale verkeersdepartement sê sy was aan diens op Dinsdag, 29 Oktober toe sy die man in sy bakkie, in Georgeweg naby Santosstrand gestop het.
Daar was 'n manspassasier saam met hom. Volgens Van Emmenes kon sy die alkohol op 'n afstand ruik. Sy passasier was nugter. Blykbaar was die man vanaf sy huis oppad bank toe om geld te gaan trek. Die bestuurder kon egter skaars praat, berig Van Emmenes.
Sy het die 36-jarige man op die toneel in hegtenis geneem en het kollegas gevra om te kom bystand lewer met die voertuig. Sulke oortredings kom daagliks voor en bestuurders wat onder die invloed bestuur, staar 'n opgeskorte vonnis, 'n boete of tronkstraf in die gesig. Boonop word hul bestuurderslisensies ook opgeskort. Baie motorbotsings en padsterftes word veroorsaak as gevolg van motoriste wat onder die invloed bestuur. Motorbestuurders word gemaan om tydens die feestyd nie oor die toegelate bloedalkoholvlak te bestuur nie.
Dit word aanbeveel om liewer glad nie te drink en dan te bestuur nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'