MOSSELBAAI NUUS - Laerskoolleerders in die Mosselbaai-omgewing baat tans by 'n projek gedryf deur die bestuurder van 'n plaaslike blaasorkes in samewerking met die Da Gamaskop-polisie.
Josie Domingo van die Mosselbaai Gemeenskapsorkes werk reeds 'n geruime tyd met leerders by Erika Primêre Skool, waar sy seun kst Dillon Domingo, asook kst Marcel Prinsloo van die Da Gamaskop-sonekantoor, die jongelinge onderskeidelik leer musiek maak en dril.
Hierdie projek word onderskryf deur die bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, brig Gerhard Jantjies en die polisie bied deurgaans ondersteuning waar nodig.
Die betrokke leerders het gedurende die onlangse winterskoolvakansie aktief aan opleiding deelgeneem wat daartoe bygedra het dat hulle konstruktief besig gehou is.
Tydens Mandeladagvieringe by Erika Primêre Skool, het dié drilpeletonnetjie reeds hulle eerste optrede gehad wat baie goed deur hulle mede-leerders ontvang is.
Danksy goeie samewerking, vorder die projek om laerskoolleerders te leer dril en musiek maak, goed. Rolspelers het vandeesweek by die Da Gamaskop-polisiesonekantoor vergader om die projek te bespreek. Agter: kst Marcel Prinsloo, kst Ludumo Dyasi, Shireen Hendricks, sers Kappie Kapp en kst Dillon Domingo. Voor: kapt Wollie Fourie, Josie Domingo en brig Gerhard Jantjies.
Die projek, soos voorheen berig in die Mossel Bay Advertiser, het ten doel om waardes soos respek en dissipline te help vestig, asook om 'n heilsame tydverdryf by jongmense te help vestig.
Enige persoon wat meer inligting oor die projek wil he, kontak Josie Domingo (072 879 3094).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'