TUINROETE NUUS - Mense wat Dinsdag, 25 Mei op die agterpaaie van Mosselbaai na George ry, word gevra om die drie gestremde vriende, wat aan 'n unieke uitdaging deelneem, te ondersteun.
Die drietal, Pieter Koekemoer, Carl de Campos en Sean Snyman gaan deelneem aan The Three Amigos Mossel Bay to George Relay. Dit val saam met Afrikadag.
Die aflos begin om 07:00 by Mosselbaai-toerismekantoor. Koekemoer sal daarvandaan 25 km per fiets tot in Groot-Brakrivier ry. In Groot-Brakrivier sal De Campos oorneem en 15 km stap tot baie naby aan die George-lughawe. De Campos, wat blind is, sal gelei word deur 'n helper.
Naby die George-lughawe sal Snyman die laaste skof aandurf tot by Eenheidspark in George se stadskern. Hy sal deur Blanco beweeg vergesel van sy hond, Flame. Hy hoop om teen 12:00 by Eenheidspark te wees. Volgens Snyman sal hy loop, hardloop en selfs kruip as dit nodig is om by die eindpunt aan te kom.
Hulle hoop om bewusmaking vir gestremde atlete te skep, maar ook om George en Mosselbaai te vestig as die voorkeur bestemming vir mense met gestremdhede.
Mense is welkom om hulle langs die roete steun en in te wag by Eenheidspark.
Hulle gaan ook fondse insamel vir twee strandrolstoele of iets wat dit sal moontlik maak vir mense in rolstoele om in die see in te gaan.
Die plan is om R120 000 in te samel. Snyman het gesê dit is moontlik dat dit 'n jaarlikse geleentheid kan word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'