MOSSELBAAI NUUS - Drie verdagtes, wat glo sedert einde 2017 gereeld amok maak by persele op Louis Fourieweg, het danksy 'n optrede deur lede van die Da Gamaskop-polisie se misdaadvoorkomingseenheid, aan die pen gery nadat hulle Maandag in hegtenis geneem is.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie, het die opsigter van die nabygeleë woonstelkompleks in Boland Park, wat hulle gereeld op hoogte hou van verdagte aktiwiteite in die omgewing, die polisie asook die eienaar van die betrokke perseel op Maandag, 7 Mei omstreeks 11:30 in kennis gestel van drie mans wat besig was om goedere vanaf 'n perseel by Louis Fourieweg 40 te verwyder.
Adjudant-offisier Noël Jacobs en konst Luwayne Duitsjan is na die perseel om ondersoek in te stel waar hulle drie verdagte mans aangetref het. Een van die verdagtes was reeds aan die agterkant van die perseel besig om met 'n skottelgoedwasser wat hy op sy kop gebalanseer het, teen die koppie uit te klim. Na bewering het nog 'n verdagte die raamwerk van 'n bed by hom gehad.
Die verdagtes het gepoog om te ontvlug, maar is deur die polisielede in hegtenis geneem. Volgens inligting verskaf deur die polisie, is die betrokke verdagtes vermoedelik etlike maande reeds betrokke by misdaad in die omgewing.
Daar is tot twee keer per dag by van die persele ingebreek. Hoewel verskeie sake aanhangig gemaak is, kon die spesifieke verdagtes nie met sake verbind word nie.
Maandag is hulle egter op heter daad en in besit van eiendom wat op die perseel deur die regmatige eienaar geëin is, betrap.
"In hierdie geval wys dit net weer watter sukses behaal kan word danksy lede van die gemeenskap se oplettendheid en samewerking," sê kapt Wollie Fourie van die Da Gamaskop-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'