MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie ondersoek 'n saak teen drie verdagtes wat met 'n hoeveelheid vermoedelik gesteelde goedere in hulle besit gevind is.
Die verdagtes, twee mans onderskeidelik 33 en 40 jaar oud en 'n 42-jarige vrou, is op Donderdag, 26 Mei by 'n woning in Alhof-rylaan, D'Almeida in hegtenis geneem.
Polisie het op die woning toegeslaan nadat 'n wenk uit die gemeenskap ontvang is. 'n Hoeveelheid vermoedelik gesteelde items, waaronder 'n waardevolle teleskoop en meegaande driepoot, 'n groot plasmatelevisieskerm en ander elektroniese toerusting is op beslag gelê.
Die verdagtes het op Maandag, 30 Mei in die hof op Mosselbaai verskyn en is steeds in aanhouding.
Die Da Gamaskop-polisie versoek die regmatige eienaars van die gesteelde items of enigiemand wat moontlik kennis dra van misdaadvoorvalle met betrekking tot diefstal uit 'n woning, om ao Janette Yssel van die Da Gamakop-polisie se speurafdeling te kontak (044 606 2200).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'