MOSSELBAAI NUUS - 'n Een-en-twintigjarige man is in hegtenis geneem, terwyl twee verdagtes nog op vrye voet is na afloop twee roofvoorvalle op minderjarige kinders verlede Donderdag.
Volgens inligting ontvang van die Da Gamaskop-polisie, het drie seuns op Donderdag, 15 Augustus omstreeks 20:15 huis toe gestap met Alhofrylaan, toe 'n onbekende man hulle konfronteer.
Die seuns was besig om op hulle selfone te praat toe die man hulle met 'n mes dreig en die een selfoon buit.
Die mes, soos deur die slagoffers beskryf, was met drie sterretjies versier.
Nadat die seuns hulp probeer ontbied het, het hulle die verdagte man in Eilandstraat met twee ander onbekende mans sien praat.
Toe hy hulle egter sien naderkom, het hy in die rigting van die JCC-woongebied gevlug. Die ander twee mans het aan die seuns gesê dat hulle die vermeende rower ken en dat hulle sy woning kan uitwys.
Hierna het hulle die seuns na die JCC-woongebied vergesel. Hulle het die vermeende rower se woning gevind, maar hy was nie tuis nie. In die proses het die twee mans wat die seuns vergesel het, nóg 'n selfoon van die seuns geroof en op die vlug geslaan.
Die seuns is toe na die Da Gamaskop-polisiestasie se dienssentrum toe om hulp te soek. Konstabel Blou het hulle hierna na die woning in die JCC-woongebied vergesel. Nadat die inwoners geweier het om oop te maak, is toegang tot die woning verkry deur die deur oop te forseer.
Die vermeende rower is deursoek en 'n mes wat aan die beskrywing voldoen is in sy besit gevind.
Hy is in hegtenis geneem en het ook die plek uitgewys waar hy reeds die selfoon verkoop het.
Die beweerde koper van die selfoon het egter ontken dat hy dit van die verdagte gekoop het.
Die ander twee verdagtes is egter nog nie in hegtenis geneem nie, maar is goed beskryf deur die slagoffers.
Die stasiebevelvoerder van die Da Gamaskop-polisie, kol Mark Hartenberg het die lid betrokke geloof vir sy flinke optrede.
"Ons maan die publiek weer eens om nie met hulle waardevolle items soos selfone openlik te stap nie. Dit is steeds van die items wat die meeste gebuit word tydens rooftogte in ons bedieningsarea," waarsku kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'