Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die wenner van die Dream Girl South Africa kompetisie vir 2022, Carla Greyling (19), het Vrydag, 23 Desember 'n groot donasie aan die dierebeskermingsvereniging (DBV) in Mosselbaai in die burgemeesterskantoor, oorhandig.
Carla van Bloemfontein en haar jonger broers het 'n NPO wat hulle gebruik om jaarliks kospakkies vir hulpbehoewende mense in te samel.
Vir die Dream Girl SA-kompetisie het Carla hondekos, medisyne vir diere en ander troeteldier-noodsaaklikhede ingesamel.
Carla se NPO het ook 'n aansienlike bedrag vir die Reddersburg Kinderhuis ingesamel. Sy vertel dat sy uit die kompetisie geleer het dat dit nie saak maak wat jou droom is nie, as jou kop en hart op die regte plek is, sal jy dit bereik.
Die waarde van die skenking aan die DBV in Mosselbaai is R40 000. Die skenking gaan regverdig verdeel word tussen ander diere-organisasies in die distrik.
Die burgemeester, Dirk Kotzé, het sy dank en waardering aan Carla oorgedra vir dié gebaar wat in die huidige ekonomiese omstandighede 'n welkome kersgeskenk vir baie diere is.
Marie de Klerk,' n oud-raadslid van Mosselbaai-munisipaliteit en betrokke by die plaaslike DBV, is opgewonde oor die werk wat reeds in die Vrystaat by diere-organisasies gedoen is en verwelkom Dream Girl SA se inisiatief om volgende jaar hul liefdadigheidswerk in Mosselbaai voort te sit.
VIDEO: Carla Greyling, wenner van Dream Girl South Africa
Dream Girl SA bevorder entrepreneurskap en is daarop gemik om liefdadigheidswerk te doen. Dames van enige ouderdom bo 16-jaar kan inskryf vir die kompetisie.
Die finaliste woon vier werkswinkels deur die jaar by en kry punte vir die take wat hulle doen.
Die finalis met die meeste punte, word aangewys as die Dream Girl SA vir daardie jaar.
Burgemeester Dirk Kotzé, Yvonne Thompson (finalis Dream Girl SA) Elize Goosen, takbestuurder DVB Mosselbaai, Carla Greyling (Dream Girl SA 2022), Marie de Klerk (oud-raadslid en DBV) en Elize van Vuuren (area agent Suid-Kaap, Dream Girl SA).
Mosselbaai burgemeester, Dirk Kotzé, Elize Goosen (takbestuurder Mosselbaai DBV), Carla Greyling (Dream Girl 2022) en Marie.
Judine Viljoen (finalis 2023), Jeanne Basson (Tuinroete DBV) Elize van Vuuren (area agent Suid-Kaap, Dream Girl SA), Carla Greyling (Dream Girl SA 2022 wenner), burgemeester Dirk Kotzé, Yvonne Thompson (finalis 2022), Marie de Klerk en Elize Goosen (DBV Mosselbaai).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'