Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ten spyte van nat reënweer het verskeie drawwers Saterdag, 15 Oktober in samewerking met die Hartenbos Drawwers-klub by die Hartenbos seefront weggespring op 'n pretdraf om fondse in te samel vir die 16 SA visueel-gestremde rolbalspan-lede wat van 5 tot 16 Maart 2023 aan die Wêreldkampioenskap in Australië gaan deelneem.
Eben Fourie en sy gids, Charles Collen van Hartenbos-rolbalklub is deel van die span.
Die afstand van 4,6km al langs die wandelroete en strand-langs terug, is deur al die deelnemers voltooi ten spyte van die ysige koue en die wind wat sterk gewaai het langs die strand.
Dit was die eerste pretdraf van sy soort en elke drawwer en stapper het 'n medalje ontvang. Die ou medaljes is aan die organiseerders deur lede van die publiek ge-skenk wat dit in hulle besit gehad het.
Die idee was dat deelnemers 'n blinddoek, 'n toutjie en 'n gids moes saambring. Deelnemers is ook aangemoedig om 'n sonbril te dra soos wat die blinde rolbalspelers gewoonlik dra wanneer hulle deelneem.
Die volgende pretdraf vir fondsinsameling vind op Saterdag, 5 November in Mosselbaai plaas.
"Sit jou sonbril op, trek jou tekkies aan en kom draf of stap saam," sê Hannetjie Fourie, organiseerder van die fondsinsameling. Vir meer inligting kontak Fourie (082 933 2254) of Ferdie Nel (083 294 2640).
VIDEO - Drawwers en stappers trotseer koue nat weer vir blinde rolbalspelers:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'