Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Volgens inligting ontvang van die polisie, is die 31-jarige vrou wie se liggaam Woensdagoggend op die kranse by die Punt ontdek is, deur haar familie uitgeken.
Die oorledene het volgens inligting vanaf Kaapstad per bus na Mosselbaai gereis. Die rede vir haar besoek is nog onbekend.
Op die familie se versoek, word die oorledene se naam nie bekend gemaak nie.
Helikopter
Die Mosselbaai-polisie het Woensdagoggend, 27 November, 'n oproep van 'n werknemer van die Point Hotel by die Punt op Mosselbaai ontvang om te sê dat 'n verbyganger iets, vermoedelik 'n liggaam, op 'n krans langs die St Blaize-staproete onder die vuurtoring sien lê het.
By nadere ondersoek is die liggaam van 'n vrou ontdek.
Die vrou se handsak is ook op die toneel gevind met haar ID-dokument en selfoon binne in die handsak. 'n Handdoek en serp is glo ook 'n ent verder van die liggaam af gevind.
Verskeie nooddienste is na die toneel ontbied.
Na oorweging is die opsie om die liggaam teen die kranse te probeer herwin as te gevaarlik geag.
Hierop is 'n reddingshelikopter ontbied.
'n Reddingshelikopter is ontbied.
Twee reddingswerkers is per helikopter op 'n groot rots naby die liggaam laat sak. Hierna het die helikopter weer terugbeweeg na die hotel waar dit gaan land het terwyl die reddingspan die vrou se liggaam herwin het.
Ná sowat 25 minute is die vrou se liggaam per helikopter opgehys en na die hotel se parkeerarea geneem waar 'n voertuig van forensiese patalogie gewag het om die liggaam in ontvangs te neem.
Daarna het die helikopter die twee reddingswerkers opgepik en eers teen die krans op en af beweeg om te sien of daar enige ander persoonlike items van die oorledene sigbaar is.
Kyk 'n video hieronder.
Volgens die speurhoof van die Mosselbaai-polisiestasie, kapt Jackie Grundlingh, word geen gemene spel in verband met die voorval vermoed nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'