Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Die Minister van Landbou in die Wes-Kaap, dr Ivan Meyer, het Maandag, 29 Mei, Boere- en Vroue-Landbou unies van die Tuinroete toegespreek oor die kritiese kwessies wat 'n invloed op die landbousektor het.
Dr Meyer sê dat beurtkrag 'n vernietigende uitwerking op landbou het en dat sy departement 'n energieberaad belê het vir 22 en 23 Junie om alternatiewe bronne van energie te bespreek, wat boere kan help.
Volgens Meyer het die Wes-Kaap in die 4de kwartaal van 2022, 167 000 werksgeleenthede geskep uit 224 000. Daar het egter soveel werksgeleenthede verlore gegaan in ander provinsies soos Limpopo en die Oos-Kaap dat die Wes-Kaap se syfers 99 persent van Suid-Afrika se werksgeleenthede wat geskep is, verteenwoordig. Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, gaan in Junie die VSA besoek om te veg vir die behoud van die AGOA-ooreenkoms.
"Amerika is die Wes-Kaap se grootste handelsvennoot, met verskeie landbouprodukte wat voordeel trek uit die vrystelling van invoerbelasting.
Hierdie gunstige verhouding is nou in die weegskaal, weens die regering van Suid-Afrika wat na bewering wapens verskaf aan Rusland. Ons moet die handelsooreenkoms met die VSA behou." Meyer het vervolg dat Suid-Afrika net gered kan word deur munisipaliteite wat werk.
R88 Miljoen is beskikbaar gestel aan munisipaliteite in die Wes-Kaap om die impak van beurtkrag op munisipale water en rioolstelses teen te werk.
Meyer het sy prioriteite vir Landbou in die Wes-Kaap uitgestippel wat navorsing, landelike veiligheid, marktoegang, klimaatsverandering en praktiese ondersteuning van boere insluit.
"'n Aanval op 'n boer is 'n aanval op die ekonomie van jou land. Dit is die taak van die regering om in te gryp."
Landbou in die Wes-Kaap is verantwoordelik vir 55% van SA se landbou-uitvoere. Meyer het afgesluit met die boodskap dat Suid-Afrika in 'n krisistyd is.
"Daar is nie meer tyd vir kleinlike politieke speletjies nie. Ons moet saamstaan om die land te red." Hy is 'n groot ondersteuner van Franklin D Roosevelt en het afgesluit met een van sy aanhalings. "This is preeminently the time to speak the truth, the whole truth, frankly and boldly."
VIDEO - Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse Minister van Landbou oor die behoud van die AGOA-ooreenkoms met die VSA.
VIDEO - Die Wes-Kaapse Minister van Landbou, dr Ivan Meyer, bring hoop vir boere in die Tuinroete-distrik.
Foto's:Alet Engelbrecht
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’