MOSSELBAAI NUUS - Waar beter om die somer en son te vier as in die pragtige Mosselbaai, wat boonop vanjaar trots die kroon dra as die Kwêla Dorp van die Jaar.
Die onderskeie akkommodasie-instellings berig dat feitlik alle akkommodasie, woonwaparke ingesluit, van hierdie naweek af behoorlik uit hul nate bars, en besoekers sal verseker vanjaar kan kus en keur uit die groot verskeidenheid vermaak wat aangebied word.
Boonop is die vermaak nie tot net tydens die somervakansie beperk nie, maar sal ook in die maande daarna die dorp se gees, hartklop en ritme in die hoogste versnelling hou.
'n Eerste In Afrikaans
Die eerste In Afrikaans-konsertreeks vind van volgende week op Hartenbos plaas.
Meer as 20 van die voorste Afrikaanse musiekkunstenaars, onder meer Robbie Wessels, Jay en Lianie May, Leah, Jo Black en Theuns Jordaan gaan optree.
Dié konsertreeks op 20, 24, 26, 27 en 30 Desember en 4 Januarie gaan iets bied vir elke smaak.
Bring op 24 Desember die Oukersaand deur met Kersliedere en 'n orkes saam met Robbie Wessels, Jo Black, Leah en Douvoordag. Alle skenkings wat tydens dié aand ingesamel word, is ten bate van Hartenbos-bejaardesorg.
Fliekpiekniek
'n Buitelug-fliekpiekniek met dieselfde atmosfeer as 'n eertydse inry sal 'n stukkie nostalgie laat herleef wanneer Susters, die nuwe Afrikaanse fliek, vir die eerste keer by die In Afrikaans-konsertreeks vertoon word.
Die film word eers in Maart 2018 in rolprentteaters landwyd vrygestel.
Jo Black en Leah sal op Hartenbos die temalied, Nooit Alleen in lewende lywe op 26 Desember vir die gehoor sing.
Op 27 Desember word Mnr en Mej Hartenbos gekroon en vanjaar se Mej Hartenbos sal ook outomaties deel van die top 40 in die Sarie Voorbladgesig-kompetisie wees.
Karlien van Jaarsveld, Brendan Peyper, Leah, Jan Bloukaas en Georic Lomas is deel van die aand se verrigtinge.
Nuwejaar
Op 30 Desember kan jy solank begin regmaak vir 2018 en in beter geselskap as saam met Theuns Jordaan, Robbie Wessels, Karen Zoid, Bok van Blerk, Jo Black, Karlien van Jaarsveld, Elvis Blue en Fatman - om maar net 'n paar name te noem - kan jy nie wees nie.
Vir kaartjiebesprekings en die volledige program, besoek https://itickets.co.za//events/
Steeds het einde niet
Die Tarka Straatfees vind vanjaar vanaf 15-17 Desember in Tarka plaas.
Hierdie fees vier vanjaar sy vyfde bestaansjaar en is 'n kunsgebaseerde gemeenskapsprojek wat erkening gee aan die Tarka-woonbuurt met sy ryk kulturele geskiedenis.
Dan is daar ook nog die Gaatjie Fees wat gerig is op vermaak vir die gemeenskap, asook die Mossel Bay End of Year Bash wat die nuwe jaar by die D'Almeida-sportgronde gaan inlui.
Oudergewoonte sal die Garden Route Casino 'n vermaaklikheidsprogram vol interessante verassings aanbied.
Benewens voortreflike jazz, bied die Bravo Splash-reeks van Woensdag, 20 Desember tot Vrydag, 22 Desember vertonings aan deur onder meer Radio Raps, Rocco de Villiers en die groep Adam, wat bestaan uit Hugo Ludik, Kyle Grant en Reynardt Hugo.
Sport
Sportentoesiaste kan die lekker-eet-rolletjies gerus afskud deur deel te neem aan die talle georganiseerde sportbyeenkomste, onder meer die NSRI se Nuwejaarsdraffie strandlangs op Diasstrand wat op 1 Januarie vir die 15de keer aangebied sal word.
Moet ook nie van die gewilde toeskouersport, die Trans Agulhas rubberboot-wedren vergeet nie, Gepas genoem die "World's Toughest Inflatable Boat Challenge" spring op 28 Desember weg by Plettenbergbaai.
Die voorlopers word vanaf ongeveer 11:15 dieselfde dag op sal Mosselbaai verwag.
Die tweede skof van die vyfdagresies vertrek na Stilbaai op 29 Desember.
Dorpsfeeste
"Mosselbaai se munisipaliteit ondersteun graag die onderskeie dorpsfeeste, juis omdat die toeriste na die dorp lok, gevolglik die plaaslike ekonomie goed ondersteun en werksgeleenthede vir plaaslike inwoners skep.
In baie gevalle gee die munisipaliteit die leiding met personeel wat die feeste bo en behalwe hul normale werksaamhede organiseer en koördineer.
Vir dié personeel het die raad net die hoogste lof, want hul onbaatsugtige betrokkenheid verseker kwaliteitfeeste waarop die hele dorp met reg trots kan wees.
In ander gevalle is die munisipaliteit bloot die fasiliteerders, en neem die gemeenskap die voortou, soos onder meer die geval is met die Sportfees.
Daar is weinig dorpe in die land wat met Mosselbaai kan meeding as toerismebestemming, veral wanneer gekyk word wat alles vir besoekers op die spyskaart van vermaak aangebied word.
Soos gewoonlik, is Mosselbaai-munisipaliteit ook hier die toonsetters.
Die Diasfees betrek verskeie kulture vanoor die wêreld wat in kleurryke nasionale drag aan die straatparade deelneem. Foto: Mariska VisagieDie Diasfees betrek verskeie kulture vanoor die wêreld wat in kleurryke nasionale drag aan die straatparade deelneem. Foto: Mariska Visagie
Groter, beter, Dias&Portfees
Die feesprogram vir 2018 begin vroeg met die gekombineerde gratis Dias&Portfees.
In 2018 sal die hawe-owerheid vir die eerste keer hul volle gewig by die Diasfees ingooi, en na verwagting 'n gans nuwe dimensie aan die fees bied.
Die amptelike verrigtinge begin stemmig met 'n kultuuraand op Donderdag,
1 Februarie, waarna drie dae van feesviering en pret vanaf 2-4 Februarie sal volg wat 'n straatparade en verhoogprogram met internasionale sowel as plaaslike kunstenaars, uitstallings en stalletjies, 'n straatparade, biertent, teetuin en 'n verkeidenheid vermaak vir die kinders insluit.
Die hawe gaan egter vir die duur van die fees 'n miernes van bedrywighede wees en onder meer 'n loopbaanskou en ander interessante vertonings aanbied.
Daar word hard gewerk om ook die onderskeie vertakkinge van die SA Vloot en nasionale weermag betrokke te kry.
Feesgangers kan ook uitsien na die gewilde motorsport gimkana, vlagspronge en meer.
Alle verrigtinge is gratis.
Buffalo Rally
Direk daaropvolgend, en hoewel nie 'n dorpsfees nie, gaan die duisende motorfietse wat Mosselbaai as deel van die Buffalo Rally besoek, weer opnuut lewe bring in die strate van Mosselbaai.
Die 15de Buffalo Rally vind die naweek van 16 Maart plaas met groot prysgeld, groot biertente, die massarit deur die dorp, en orkeste en stalletjies wat vir vermaak sal sorg.
MossJazz-fees
Die dorp gaan ook nie juis kans kry om tot verhaal te kom voordat die eerste groot MossJazz-fees on samewerking met die Singer-groep by die De Bakke Santos-oord aangebied gaan word vanaf 22 tot 25 Maart.
Volgens die organiseerders het verskeie groot musiekgeeste reeds vir die program bevestig, enkele van hulle is Judith Sephuma, PJ Powers; Alistair Izobell; Don Veno Pins; Jonathan Rubain; G Minor – Mossel bay based band; The Rockets; Airborne en Karin Kortje,
Soul Festival
Net om die smaakkliere te prikkel en seker te maak besoekers vergeet nie in die winter van Mosselbaai nie, word die eerste Soul Festival vanaf 13 tot 15 Julie aangebied.
Hierdie fees gaan tot alle sintuie spreek; lekker kos, lekker kuier, goeie wyn, uithaler vermaak, kaggelkuiertjies en vele meer.
Die organiseerders verseker besoekers en inwoners van 'n fees sonder weerga.
Sportfees
Ietwat later in die jaar, in September, vind die jaarlikse Sportfees plaas wanneer die onderskeie sportliggame in die dorp en streek byeenkomste van selfs internasionale aansien aanbied.
Die fees lok duisende atlete na Mosselbaai en nasionale en selfs internasionale kompetisies - en kampioenskappe - word oor 'n tydperk van sowat twee weke in die groter Mosselbaai gehou.
Iets vir almal is op die spyskaart, want benewens die dorpsfeeste en georganiseerde byeenkomste, word sport hoegenaamd nie afgeskryf nie, maar meer daaroor volg later.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'