MOSSELBAAI NUUS - Verskeie voorvalle van dooie robbe wat op plaaslike strande uitgespoel het, is die afgelope feestyd aangemeld.
Die presiese oorsaak van die huidige sterftes is nie bekend nie. Sterftes word gewoonlik toegeskryf aan verskeie faktore waarvan haai-aanvalle die meeste voorkom.
Wat egter kommer wek, is dat die robbe geen opsigtelike bytmerke het nie. Verskeie ander oorsake soos siektes en oorbevolking kan egter ook van die redes vir die dood van die robbe wees.
In ander gevalle is die robbe doodgeslaan of geskiet deur die bemanning van visserbote nadat hulle in die vissers se nette gevang is en die robbe is dan net oorboord gegooi.
Laat in 2021 het dieselfde verskynsel op die strande rondom Kaapstad voorgekom. Na outopsies is gevind dat die robbe se mae dikwels leeg is.
Kos en genoeg daarvan is baie noodsaaklik vir die voortbestaan van rob-kolonies en die welpies. Een van die bevindings was dat rooi-gety ook 'n moontlike oorsaak van rob sterftes is as die robbe die besoedelde skulpvis geëet het.
Volgens Graig Viljoen van die Incident Working Group Africa is die huidige rob-sterftes nie ongewoon nie. Volgens Viljoen spoel daar gemiddeld ongeveer 'n dosyn robbe 'n week op ons strande uit, afhangend van die wind.
Viljoen sê die karkasse op die Hartenbosstrand is ooglopend jong robbe van ongeveer dieselfde ouderdom en kan moontlik toegeskryf word aan siekte.
"Die afgelope 25 jaar wat ek betrokke is met robbe en hulle karkasse, is die klomp sterftes vir hierdie tyd van die jaar nie ongewoon nie," sê Viljoen.
Val Marsh van die Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) sê dat die welpies twee tot drie dae deur die ma op die eiland gelos word sodat sy self kos kan gaan soek. "Dis wel 'n feit dat die visbronne redelik uitgedun is aan ons kus en dat die ma's ver moet swem vir kos," sê Marsh.
Omdat hulle soogdiere is, moet die kleintjies aan die moeders drink. Volgens Marsh verswak hulle gou en as daar storms op die see voorkom, spoel branders hulle van die rotse af en eindig hulle dood of lewendig op die strande. Die meeste van die jong welpies kan nie swem nie.
Die jaar-oud welpies word dan op hul eie gelaat as daar nuwelinge aankom en veroorsaak soms dat hulle doodgaan van hongerte aangesien hulle nie baie ver kan swem vir kos nie.
Met die onlangse dooie robbe waarvan die oë weg is, sê Marsh dat dit toegeskryf kan word aan seevoëls wat die oë uitpik.
Die publiek word egter gewaarsku om glad nie fisiese kontak te maak met dooie seediere op die strande nie.
Onderliggende siektes en parasiete kan skadelik wees vir 'n mens. Besoek gerus S.M.A.R.T. se Facebook blad vir meer hieroor. Die publiek word gevra om dadelik S.M.A.R.T. (072 227 4715) te kontak indien enige seedier, dood of lewendig op die strand gevind word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'