TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Hoewel die Covid-19-pandemie en die gevolglike inperking ‘n verpletterende effek op die ekonomie gehad het, het dit sommige se veerkragtigheid na vore gebring het.
Van hierdie vasbyters is juis in die sogenaame risiko-ouderdomsgroep wat die koronavirus betref, maar blykbaar het hulle die resep om te oorleef mooi agtermekaar.
'Ek wás kwaad'
Monica Langmaak (64) het 40 jaar lank ‘n haarsalon in Marshstraat bedryf. Sy het in Junie 1980 haar deure geopen en ironies genoeg in Junie 2020 vanweë Covid-19 toegemaak. Monica was in Namibië toe die ramptoestand aangekondig is en het net betyds terug die land ingekom.
Sy het nog ‘n week voor die inperking sake gedoen. “Eers was dit drie weke se toemaak en toe word dit verleng. Tóé hoor ons aanvanklik dat salonne eers op vlak 1 sal kan oopmaak. Ek het my somme gemaak en besef ek sal moet toemaak.”
Omdat haar loopbaan haar nie die vrye tyd gegun het om ‘n stokperdjie te beoefen het, het sy besef sy sal weer moet werk, want sit en niksdoen kon sy nie. Haar seun het met die voorstel gekom dat die houthuisie op haar erf in ‘n salon omskep kan word .
“Ek het gedink hy's mal, maar toe ek behoorlik gaan kyk het ek die moontlikhede raakgesien.” Nou het sy ‘n tuisbedryf. Omdat sy nie die koronavirus wil opdoen nie, is sy uiters versigtig. “Ek werk net op afspraak, slegs een kliënt ‘n uur met ‘n halfuur tussenin om oral te ontsmet."
Monica sê sy beperk haar bewegings. “Ek is ‘n shopaholic, maar ek vermy winkels. Ek koop net wat op my lysie is en gaan vroeg wanneer dit stil is.”
Aanvanklik, sê Monica was sy bitter kwaad. “Ek was kwaad vir die kopdoektannie, vir Suid-Afrika, vir die hele wêreld, maar toe ek die restaurante se protesaksie in Marshstraat sien, het ek besef hoe baie ek het om voor dankbaar te wees.”
Monica se nuwe tuissalon.
Monica's Cut & Run van binne.
Lewenstylaanpassing
Joan en De Waal Carstens, beide 76 jaar oud, bedryf ‘n fliekteater en vintage-klerewinkel in Mosselbaai. Vir hulle was daar heelwat finansiële uitdagings gewees, maar danksy toegewings deur hul verhuurder, die bank asook organisasies waar die teater vir tantieme geregistreer was, kon hulle oorleef.
Van hulle grootste uitdagings, sê hulle, was scenariobeplanning van hoe die besigheid sou verloop wanneer die inperking verlig of opgehef sou word. Hulle het ook gewonder of klante nog sou belangstel of selfs die finansies sou hê om hulle besigheid te ondersteun ná die inperking.
“Ons in Meimaand reeds oopgemaak en aangepas by elkeen van die verskillende vlakke van inperking. Toe ons klere mag verkoop het, het ons. Toe eetplekke weer kos mag verkoop het, het ons op bestelling verskaf en nou wys ons weer flieks.”
Hulle meen dat hulle besigheid staande gebly het oor hulle diverse aanbiedings en ook omdat hulle oorhoofse koste laag is aangesien hulle self die werk doen.
Alhoewel hulle heelwat aanpassings moes maak vanweë die Covid-19-regulasies, werk hulle klante besonders goed saam. “Ons wys tans daagliks flieks met baie klein groepe, waar ons voorheen weekliks met groter groepe sou. Sedertdien, was ons nog nie eendag sonder klandisie nie. Mense is uitgehonger om weer iets opbouends te ervaar.”
Die Carstense beskou die Covid-19-pandemie as ‘n vreemd en ongekend, maar glo dat hulle nie tuis kan sit en wag dat dit verbygaan nie. “Ons in die risikogroep, maar kom al die reëls nougeset na. Ons beskou dit nie as die nuwe normaal nie, eerder dat ons ‘n lewenstylaanpassing moes maak wat die dra van maskers, hou van sosiale afstand en meer gereelde handewas vir nog ‘n lang tyd gaan insluit.”
Joan en De Waal Carstens
Deona Aucamp van Suid-Kaap Forum het ook by ‘n paar vasbyters gaan kers opsteek.
Slegs harde werk
Evert en Anna Maree Kleynhans wat al vir 28 jaar 'n meubel-en toebehorewinkel op Stilbaai bedryf, reken hul geheim is harde werk en 'n puik span mense. “Daar is net een manier om sukses te behaal en te behou.”
Hulle het volgens Evert in April en Mei besluit om die verliese van inperking agter hulle te sit en met ekstra harde werk onder te begin.
Hy reken veral op die platteland is die gehalte van jou naverkoopdiens van deurslaggewende belang. “Jy moet bereid wees om altyd daardie iets ekstra vir die kliënt te doen. Loop die ekstra myl en wen die kliënt se vertroue met jou diens en 'n uitstekende produk.”
Hy beskou verhoudings bou, veral op 'n vakansiedorp soos Stilbaai, as uiters belangrik. “Baie mense het net vakansiehuise hier, maar jy sien hulle elke jaar. Jy bou naderhand so 'n goeie reputasie by hulle op dat hulle nie eers meer ander winkels oorweeg nie. Hulle bel net en sê ons moet aflewer.”
Die Kleynhanse slaak egter saam met ander besighede 'n groot sug van verligting dat sake weer aan die gang kan kom.
Evert en Anna Maree Kleynhans
Sukses is ‘n móét
Vir Magda Niemand wat al vele jare in die restaurantbedryf staan, lyk die prentjie anders. Sy dink die geheime bestanddeel is bloot die oortuiging dat die onderneming 'n sukses móét wees, want daar is nie 'n ander uitweg nie.
Sy vertel haar man Leon het reeds op 52-jarige ouderdom sy werk verloor. Dit het haar as enigste broodwinner gelaat en sy moes vinnig 'n plan maak.
Sy het boonop self gesondheidsprobleme ontwikkel en die mediese rekeninge vir dialise wat sy driemaal per week nodig het, kos heelwat.
Na haar mening is die redding van die koffiewinkel wat sy tans bedryf, die gevestigde kliëntebasis. “Ek het 'n hele aantal lojale en gereelde kliënte. Sonder hulle sou inperking dalk dié bootjie laat sink het.”
Sy vermoed die volle impak van grendeltyd in 'n seisoengebonde dorp soos Stilbaai gaan eers in Desember werklik gevoel word. “Baie mense het hul werk verloor en sal nie soos gewoonlik na hul vakansiehuise kan kom nie. Stilbaai se besigheidsmense kon tot dusver op die vorige Desember se inkomste leef, maar dit moet oor die Kersvakansie aangevul word en dit gaan dalk nie gebeur nie.”
Sy sê ook party kliënte se lewensomstandighede het sodanig verander dat hulle nie langer kan bekostig om hul gunsteling besighede te ondersteun nie. “'n Paar mense se kinders wat op ander plekke gewoon het, het hul werk verloor en nou het die hele gesin na ouma en oupa toe getrek. Die beskikbare begroting het dramaties gekrimp.”
Magda Niemand
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'