Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Onder normale omstandighede, sou hierdie week se uitgawe van die Mossel Bay Advertiser propvol foto's van vanjaar se Buffalo Rally gewees het.
Maar niks omtrent die tyd wat motorfiets-entoesiaste en ander Suid-Afrikaners tans beleef is normaal nie.
Die jaarlikse Buffalo Rally sou hierdie naweek plaasgevind het. Na President Cyril Ramaphosa se aankondiging van die nasionale ramptoestand vanweë die Covid-19-pandemie op 15 Maart, wat 'n verbod op byeenkomste van meer as 100 mense geplaas het, is landmerkbyeen-komste een na die ander gekanselleer.
Een hiervan, was die jaarlikse Buffalo Rally wat vanjaar vir die vyftiende keer in Mosselbaai gehou sou word. Dit sou die afgelope naweek, 3-5 April, vir die tweede agtereenvolgende jaar by die ATKV Hartenbos aangebied word.
President van die klub, Luderick Jacoby het vandeesweek by navraag gesê dat al die beplanning vir die byeenkoms reeds so ver gevorderd was, dat dit 'n week na die President se aankondiging gehou sou kon word.
"Teen die tyd wat die Buff gekanselleer moes word, het ons reeds 'n fortuin spandeer. Ons is egter in gesprek met die ATKV en tot dusver kyk ons na 'n datum later in die jaar. Alles hang egter af van hoe die virus uitspeel." Hy voorspel dat die uitstel tot 'n later datum 'n negatiewe effek op bywoning gaan hê.
Jacoby sê hy en sy vrou het die naweek rustig tuis spandeer. "Ons het maar 'n paar drankies geniet om ons op te kikker."
BLAFF 2020
Mosselbaaier, Danie Koch se video van hoe hy sy eie Buff in sy agterplaas hou, is bykans 5 000 keer aanlyn op die Mossel Bay Advertiser se facbookblad gekyk. Koch het verlede jaar sy eerste Buffalo Rally bygewoon en baie uitgesien daarna om vanjaar weer so te maak. "Ek het voor die naweek gedink aan hoe jammer ek is dat die Buff afgestel is en toe besluit ek om my eie Buff te hou." Koch het 'n tentjie opgeslaan, sy motorfiets met moeite tot in die agterplaas gekry, 'n braaivleisvuurtjie aangesteek en in 'n video, ander wat ook nie die ware Jakob kon bywoon nie, net die beste toegewens.
Maar Koch was nie die enigste Mosselbaaier wat in isolasie ge-Buff het nie.
Louise van der Merwe en haar man, Shaun behoort nie aan 'n motorfietsklub nie, maar kuier die afgelope ses jaar heerlik saam met vriende by die Buffalo Rally. "Toe ons besef ons gaan dit vanjaar mis, het ons die depressie teengewerk deur die BLAFF 2020 te skep."
Kyk 'n video hieronder:
Vrydag, 3 April om 14:00 het hulle begin tentopslaan in die agterplaas. Hulle het selfs hul eie toegangsbandjies gemaak. "Natuurlik moes ons vuurtjie brand. Daar was 'n doppie in die hand, musiek wat blêr en speletjies is gespeel om te ontsnap van al die negatiwiteit rondom ons." Hulle het via WhatsApp se video-oproepfunksie die geselligheid met vriende gedeel.
Tipies aan Buff-tradisie, is daar op die Saterdagoggend 'n bike run gedoen. Motorfietsryer Juanita Pienaar en haar man, Brett, het dit in 'n hulle motorhuis gesimuleer en 'n video daarvan gemaak. Daar is selfs onderling 'n potjiekoskompetisie gehou.
"Alhoewel beperk tot ons eie agterplaas, het ons steeds baie pret gehad."
'Alles is nou ernstig'
Assistent-hoof van gemeenskapsveiligheid, Antoinette Snyders, wat tans in die voorste linie is wat die toepassing van die inperkingsregulasies betref, mis die Buff ook.
"Ek mis die vriendelike gesigte, die lag, die jokes, die reuk en raas van 'n doughnut, die revving, die goeie gees. Alles nou is ernstig. Mense glimlag nie meer nie, jy hoor nie mense lag nie. Dit voel of almal verstik in angs en met reg. Die koronavirus is iets om voor bang te wees, nie wat betref of jy dit het of nie, maar oor wie jy dalk onwetend kan aansteek, iemand swakker en meer weerloos teen die virus."
Haar dogter Leonette is op 16 Maart 2005, tydens die heel eerste Buffalo Rally in Mosselbaai gebore. "Ek het in die hospitaal gelê en luister na die bikes. Elke jaar gaan Buff ons met haar verjaarsdag. Toe sy 13 word het ek gedink sy sal iets anders verkies. Maar toe ek haar vra of sy iets anders wou doen, was die antwoord duidelik. 'Mommy, it's Buff. Netso - finish en klaar. So ja, ek mis die Buff."
Antoinette Snyders (links) en haar dogter, Leonette (agter links) saam met familielede tydens die Buffalo Rally. "Ek mis die vriendelike gesigte, die lag, die jokes, die reuk en raas van 'n doughnut, die revving, die goeie gees," meen Antoinette.
Louise en Shaun van der Merwe se kampterrein tuis tydens die BLAFF 2020.
Leonette Snyders (links) is tydens die eerste Buffalo Rally in Mosselbaai gebore. Sy vier haar verjaarsdag jaarliks by die Buff. Hier is sy saam met 'n niggie, Simoné Gerber.
Die Van der Merwes het selfs hul eie toegangsbandjies gemaak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'