Die 43-jarige Theresa Vister se lyk is op Saterdag, 3 Augustus, onder ‘n bed ontdek. Sy is vermoedelik aangerand en verwurg.
Volgens verskeie bronne binne dié skynbaar hegte gemeenskap is hierdie ma van drie, met ‘n dogter in Gr 12 in Hillcrest Sekondêre Skool en ‘n tweeling in Gr 5 in Laerskool Hartenbos, verlede Donderdagaand, 1 Augustus, laas lewend gesien. Die oorledene se liggaam is egter eers op Saterdag, 3 Augustus onder ‘n bed in ‘n ander huis in Sonskynvallei ontdek, toe die eienaar van dié huis se 17-jarige seun na ‘n paar tekkies gesoek het.
Gemeenskap stomgeslaan
Pastoor Marthinus Diedericks, opvoeder aan die St Luke’s Primêre Skool in Brandwag en inwoner van Sonskynvallei, sê hy, die oorledene en haar man het vroeg Donderdagaand nog op straat geskerts. Hy is nou betrokke by jeugontwikkeling in Sonskynvallei met betrekking tot rugby- en krieketafrigting. Die oorledene, of Aunt Tess soos almal haar geken het, was glo betrokke by netbalkoördinering. Hy beskryf haar as ‘n goeie ma.
Sam Vister, die oorledene se eggenoot, is duidelik getraumatiseer deur die gebeure. Die gesin bly al etlike jare in Sonskynvallei. Hy vertel dat sy vermoorde vrou baie sosiaal was en graag van huis tot huis met almal geloop en gesels het. Sy ontsteltenis is merkbaar as hy sê hoe sy uitgesien het na haar Gr 12-dogter se Matriekafskeid wat volgende week plaasvind.
Elizabeth Mukwena, of Tannie Lizzie, soos sy in Sonskynvallei bekend staan, is al ses jaar verbonde aan die buurtwag.
“Sulke tipe goed gebeur nie hier by ons nie. Toe my kleinkind Saterdag kom sê daar’s ‘n lyk onder ‘n bed gevind, het ek gedink dis ‘n siek grap, veral toe hy sê dis Aunt Tess.”
Sy sê sy bekommer haar oor die toename van misdaad in Sonskynvallei. “Ek voel of ek vrou-alleen staan en boonop kry ek baie kritiek. Drank en dwelms loop al op twee voete hier rond.” Sy betreur die feit dat die gemeenskap onverskillig staan teenoor misdaadtendense. Da Gamaskop SAPD Sektor 2-bevelvoerder, A/o Tommie Kleynhans, in wie se area Sonskynvallei val, meen dat die stigting van ‘n formele GPF sub-forum in dié area ‘n noodsaaklikheid geword het. "Gemeenskapsbetrokkenheid is die sleutel tot misdaadbekamping, veral in 'n klein gemeenskap soos Sonskynvallei."
Verlies en vrae
Mnr Barry Oosthuizen, skoolhoof van Laerskool Hartenbos waar die Vister-tweeling sedert Gr 1 skoolgaan, beken sy skok oor die tragiese gebeure. Hy bevestig dat beide kinders, ‘n seun en dogter, ‘n aanwins vir die skool is. Die seun blink veral uit in sport en het SWD-kleure in rugby.
“Daar is sewe klasse in die skool wat sedert ons die nuus gehoor het, op eie stoom besluit het om vir die tweeling ‘n fondsinsameling te hou vir huishoudelike produkte. Hulle sal nie hul maats toelaat om in sak en as te gaan sit nie,” het mnr Oosthuizen aan die Advertiser gesê.
Intussen is daar baie onbeantwoorde vrae rondom Theresa Vister se dood. Twee mans is in verband met die voorval gearresteer vir ondervraging, maar is sedertdien vrygelaat.
Kst Kosie Gericke van die Da Gamaskop Speurders is die ondersoekbeampte in die saak. Enige persoon met inligting kan hom skakel by 083 940 4515. Alle inligting word streng konfidensieel hanteer.

Die liggaam van 'n 43-jarige vrou is verlede Saterdag onder 'n bed in hierdie huis in Sonskynvallei deur 'n 17-jarige seun ontdek.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'