Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - Vroue-organisasie, Die Dameskring het op Saterdag, 5 Desember tydens 'n aandoenlike byeenkoms by Sinksabrug, George hulde gebring aan dr Liana Roodt, die stukrag agter Project Flamingo.
Roodt het dié nie-winsgewende organisasie in 2010 tot stand gebring vanweë haar passie vir borschirurgie. Die organisasie spreek die uitdagings van borskankerpasiënte in die openbare gesondheidsektor aan.
Roodt is vanjaar aangewys as Die Dameskring se Vrou van Formaat 2020.
Nypende tekort
Roodt se vertrekpunt was vanuit die staanspoor dat pasiënte wat met borskanker gediagnoseer word, ongeag sosio-ekonomiese omstandighede, effektiewe en tydige toegang tot mediese sorg moet ontvang.
Sy het ook aangedui dat daar 'n merkbare toename in borskankerpasiënte jonger as 40 jaar is. Borskanker raak een uit elke agt vroue.
Tydens 'n insiggewende dog plek-plek skokkende aanbieding van die huidige statistiek, het sy die nypende tekort binne die openbare gesondheidsorgstelsel geskets.
By Grootte Schuur-hospitaal het Roodt verduidelik is volgens begroting, slegs een voltydse borschirurg en borsonkoloog. Voeg hierby slegs een borsradioloog, -patoloog en boonop geen rekonstruktiewe plastiese chirurg nie, om maar 'n paar van die brandpunte te noem.
Danksy die werk wat Project Flamingo doen, is meer as 700 pasiënte gehelp. Hiervolgens bied chirurge en narkotiseurs hulle dienste gratis aan en kos die prosedure verder ongeveer R4 000.
Fotogalery: Dr Roodt Vrou van Formaat 2020
Bo en behalwe hulle werk wat chirurgie betref, gee Project Flamingo ook versorgingspakkies aan pasiënte wat, soos Roodt dit beskryf, dikwels sonder enige persoonlike items, soos seep en dies meer by die hospitaal aankom.
Sedert 2019, is bykans 2 100 van hierdie pakkies uitgedeel en sedert 2010, 'n totaal van meer as 7 300.
Roodt het verduidelik dat Project Flamingo daartoe bygedra het dat die wagtydperk vir teatertyd vanaf 22 weke na 10 verkort is.
Die mikpunt is, volgens Roodt, om diagnose binne twee weke aan borskankerpasiënte te kan verskaf em die behandelingsproses binne ses weke te begin.
Spesiale bankie
Die Vrou van Formaat-toekenning is deur Roodt se tante, Coreen King, tans die president van Die Dameskring, oorhandig. In Oktober 2019, is nominasies vir die Vrou van Formaat 2020 aangevra.
Roodt se naam was onder die nominasies en sy is in Februarie 2020 eenparig deur die uitvoerende bestuur van Die Dameskring as die wenner gekies. Eers hierna, het King aan haar uitvoerende bestuur vertel dat Roodt 'n nabye familielid van haar is.
Saam met haar toekenning het Roodt 'n doelgemaakte houtbankie ontvang. King het tydens 'n emosionele oomblik verduidelik dat die bankie 'n weldeurdagte geskenk is.
Die hout waaruit dit gemaak is, het King verduidelik, was deel van Roodt se oupa se wolpars. Die pars is afkomstig van Roodt se geliefkoosde plek, die familieplaas Wildebeeskuil in die Karoo.
Dameskring-lede van regoor die land het die geleentheid bygewoon en Roodt staande toegejuig tydens die oorhandiging van haar toekenning.
Dr Liana Roodt (links) en huidige president van Die Dameskring, Coreen King. Foto: Cornelle Carstens
Vorige artikel: Dokter is vrou van formaat 2020
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'