Gallery
MOSSELBAAI NUUS - As jy nou sports wil beleef, moet jy 'n slag luister wat 'n groep ouerwordendes in die groter Mosselbaai alles aanvang.
Terwyl sommige dalk dink dat dinge maar sluimerend gaan onder die "oues van dae" in ons sogenaamde "aftreedorp," sal jy jou verbaas as jy hoor wat 'n avontuurlustige groep van tussen 60 en 70 jaar oud, tot met 'n paar lede in die 80 alles oor naweke aanvang.
Avonture
Guido Brits van Groot-Brakrivier vertel lustig hoe dit gekom het dat hy die afgelope vyf jaar reeds gereeld kort toere met sowat 20 vroue en enkele mans onderneem.
In 2016 was hy betrokke by 'n klein busdiens en pak toe met sukses 'n toer na Hogsback aan. Hoewel heerlik, was dit net te duur en te ver.
Gedurende dieselfde tydperk beland hy op 'n WhatsApp-groep, bestaande meestal uit enkellopendevroue. So tussen die gesels deur, het dit gou aan die lig gekom dat daar 'n groot behoefte aan uitstappies bestaan. Maar eintlik was dit die dringende behoefte aan samesyn die deurslaggewende faktor in die groep se bestaan.
"Die primêre doel van hierdie toere is om mense 'n bietjie uit te laat kom. Om hulle sover te kry om te praat. Daar is geweldig baie vroue wat verlies gely het, pyn met hulle saamdra en dies meer. Met so 'n saamtoerery, kry hulle geleentheid om hulle stories te deel. En glo my, as daardie bus se deur toegaan, dan gaan die bekkies net so en so," beduie hy met die hande.
Guido spandeer ure op die internet om die beste pakkette saam te stel, aangesien sy teikengroep 'n beperkte begroting het. Die konsep is uniek, want meeste van sy kliënte wil nie meer self na plekke toe bestuur nie en des te meer, nie dinge alleen doen nie.
"My slagspreuk met die saamstel van die naweektoere wat ons begin doen het was mense, dinge, ontdek, beleef," verduidelik Guido. En dit is met oorgawe nagejaag.
Soos hy vertel, hang jou mond behoorlik oop. Dis 'n teedrinkery in Elim by die geskiedkundige Morawiese sendingstasie, 'n rondkruipery in Gifberg se klipskeure op soek na boesmankuns, 'n proeseltjie Maleise kos te ete in die Bo-Kaap, kayak op die Stormsrivier en so gaan hy aan.
"Ons doen nooit dieselfde goed oor en oor nie. En ek pak 'n naweek vol. Ek waarsku dikwels dat daar maar min geslaap gaan word," lag hy.
Die kuiers is vir die lede van die groep onontbeerlik.
Liefdestaak
Vir hom is dit 'n liefdestaak. Natuurlik meen hy moet die boeke klop, maar sy grootste bevrediging is 'n groep se tevredenheid met hulle tuiskoms.
"Ons besef nie hoe eensaam mense op ons kuslyn is nie. Daar is baie vroue wat alleen in 'n groot huis agterbly, wagtend vir die kinders om in Desember te kom kuier. En wat moet hulle tussenin doen?"
Vanjaar pak hulle hul eerste buitelandse toer aan met 'n reis na Botswana. Die gelukkiges wat saamgaan sal die geleentheid kry om ondermeer saam met boesmans te stap en te dans.
Hy wil graag aangaan met sy liefdeswerk so lank was wat hy kan.
"Ek bly dink hoeveel mense daarbuite is wat ons nog nie betrek het nie. Mense wat uitmis op hierdie sense of belonging."
Ongeveer twee jaar gelede het Guido ook kuiergeleenthede op Sondagmiddae begin reël. "Die klem is op die sosiale interaksie. Die ete is 'n bysaak. Mense moet kuier."
'n Verskil maak Guido beslis te oordeel aan die terugvoering.
"Guido se wegbreeknaweke en Sondagetes verryk my lewe en ek kan nooit genoeg dankie sê nie. Nuwe dorpe, padstalle en restaurante, nuwe belewenisse en nuwe vriende. Dit is een groot lekkerte," sê Susan Greeff wat gereeld saamkuier.
"As enkellopendes gee dit ons 'n geleentheid om naweke weg te gaan in 'n groep met wie ons kan deel, lag en gesels. Dit verryk ons lewens, vul 'n leemte en gee kleur, vonk en vrolikheid aan ons bestaan," noem Essie Cloete.
Hester Bosman en Guido Brits deel een van vele prettige oomblikke.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'