MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Mosselbaai het ondanks disleksie vyf onderskeidings in sy matriekeindeksamen ingepalm.
Ethan-John Carstens is 'n bekende gesig in Mosselbaai en was al by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke. Hy was onder meer junior burgemeester in 2022 en hoofseun van Curro Mosselbaai.
'n Sielkundige van Bellville, dr ST Potgieter verduidelik meer oor disleksie in 'n artikel oor die onderwerp op die vakbond Solidariteit se webwerf.
- Disleksie is 'n leergestremdheid wat gewoonlik neurologies of biologies van oorsprong is. Dit word as 'n leerprobleem geklassifiseer omrede dit gewoonlik in die akademiese of die leeromgewing na vore kom.
- Disleksie is 'n disfunksie wat lewenslank voortduur, maar daar is hulp en behandeling wat dit moontlik maak om die effek daarvan tot 'n groot mate te oorkom.
- Disleksie dui nie op "dom" kinders of op 'n swak intelligensie nie. Mense met 'n hoë intelligensie kan ook disleksies wees. Daarom is dit belangrik dat ouers weet dat hul kind met disleksie nie stout of lui is nie, maar wel 'n leerprobleem het.
- Disleksie is ook nie die resultaat van swak onderrig in die skool of swak ouerskap nie.
Ethan-John het vyf uit sewe onderskeidings behaal en 'n A-gemiddeld gekry. Hy studeer vanjaar BSc Menslike Lewenswetenskap by die Universiteit van Stellenbosch.
Die Mossel Bay Advertiser het vir Ethan-John die volgende vrae gevra:
Wat was die uitdagendste vak en hoe het jy dit hanteer?
Vir my was die mees uitdagende vak in matriek fisiese wetenskap. My voorbereiding om hierdie uitdaging die hoof te bied, was om minstens twee keer per week ekstra klasse by 'n uitgelese oud-opvoeder te neem. Ek het my hele matriekjaar hieraan toegewy. Ek het ook soveel as moontlik vorige matriekeindeksamenvraestelle ter voorbereiding van die finale eksamen uitgewerk.
Het beurtkrag jou studietegniek beïnvloed? Indien ja, hoe het jy dit hanteer?
Beurtkrag is 'n realiteit waar rondom Suid-Afrikaners, ook matrikulante doodeenvoudig moes werk. Dit het nogal fyn beplanning geverg om byvoorbeeld addisionele studiemateriaal en ou vraestelle betyds te druk voor die krag afgaan.
Hoe het jy die balans tussen studies en sosiale lewe gehandhaaf?
My sosiale lewe in matriek het eintlik slegs bestaan uit gemeenskapswerk en publieke leierskap. Ek was hoofleier van Curro Mosselbaai en het gedien op die junior stadsraad van Mosselbaai, in die posisie van junior burgemeester. Ek het my ook beywer om 'n ATKV Jeugtak te stig, – 'n eerste van sy soort, waar die jongmense sonder volwasse leierskap van byvoorbeeld 'n onderwyser funksioneer. Dit was beslis nie altyd so maklik om 'n balans te handhaaf nie, maar leierskap gee my groot bevrediging.
Hoe het jy gemotiveerd gebly deur die skooljaar?
Ek het my oog op die einddoel gehou en het my beste vir laaste gehou.
Wat was jou hoogtepunt van jou Toekennings wat tydens die geleentheid oorhandig is, was nie net aan diegene wat 'n A-gemiddeld as hulle finale punt behaal het nie, maar ook aan diegene wat bo uitdagende omstandighede uitgestyg het om te skitter.?
Die hoogtepunt van my matriekjaar was om ten spyte van gediagnoseerde disleksie 'n toppresteerder binne die Curro-groep te wees. Dit lewer bewys dat 'n "gestremdheid" soos disleksie, geensins in die pad van sukses hoef te staan nie.
Ethan-John Carstens en sy ma, Cornelle Carstens.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'