MOSSELBAAI NUUS - Junie 2020 het soos elke ander jaar maar sy dinge. Vlak 3 van grendeltyd het ingeskop wat effe meer vryheid gee, maar steeds inperkend bly. So byvoorbeeld kon matrieks weer aangaan met skool, is daar lang opgewonde toue by drankwinkels, maar rokers bly ontstoke. Dan is dit natuurlik ook die amptelike begin van die winter met kaggelvuur, sop en snoesige komberse... vir sommige. Ander is nie so gelukkig nie.
Klein Brak VLV-tak het met laasgenoemde as agtergrond twee belangrike projekte van stapel gestuur.
Die eerste was die aflewering van kombersies (wat deur die loop van die jaar ingesamel is) en 'n donasie aan die Garden Route DBV wat so mooi na ons minderbevoorregte diere kyk. Die DBV het 'n noodkreet uitgestuur nadat hulle as gevolg van die inperking baie swaarder as gewoonlik gekry het, en op die punt was om hulle deure te sluit.
Bottelsop
Die tweede projek is bottels met sopmengsels - elkeen genoeg om 'n gesin van vier tydens hierdie koue dae van 'n lekker pot sop te voorsien. Hierdie projek sal vir die volgende paar maande voortgesit word. Lede het gevulde bottels afgelewer wat deur die tak-voorsitter met die hulp van 'n plaaslike kerk, versprei is waar nodig.
Ondervoorsitter Lynette Nel het tot op hede ook 'n massiewe hoeveelheid etes uitgedeel, meeste daarvan deur haarself verskaf. 'n Groot dankie gaan aan al die tak-lede wat Klein Brak VLV se naam hoog hou en steeds betrokke is by noodsaaklike dienste in die omgewing.
'n Dankbare werknemer van die Garden Route DBV op Mosselbaai met een van die kombersies wat aan hulle geskenk is.
Daar word eers "inspeksie" gedoen voor die kombersies aan die Garden Route DBV oorhandig word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'