MOSSELBAAI NUUS - Charles Theunissen, plaaslike geskiedskrywer se nuwe boek, wat nog 'n paar legkaartstukke oor die ontwikkeling van Mosselbaai bied, se proefkopie is voltooi.
Die boek, Old Sunnyside, Mosselbaai waaraan hy in 2018 begin werk het, word in September gedruk en bekendgestel.
Theunissen laat val dat die bekendstelling so na moontlik aan Erfenisdag gehou en in samewerking met 'n bekende organisasie gehou sal word.
Hierdie derde boek uit Theunissen se pen handel oor 'n onvertelde deel van die dorp se ontwikkeling.
Of liewer soos Theunissen dit stel, uit 'n vars nuwe perspektief wat dalk nie voorheen die noodsaaklike lugtyd gekry het nie.
Sover bekend, is dit die eerste keer dat 'n stem uit die bruin gemeenskap die storie van hierdie deel van Mosselbaai se geskiedenis vertel," het Theunissen aan die Mossel Bay Advertiser vertel.
Die onderhoud oor sy nuwe boek, is boonop by die Dias Museum gevoer, waar die gronde grens aan die plek waar die vissersgemeenskap van Mosselbaai oorspronklik gevestig was.
Dit is 'n gedeelte van die hawegebied by kaai 4 waar die treinspoor loop.
Theunissen sê min mense ken nog die geskiedenis met betrekking tot Old Sunnyside, maar daar is wel van die nageslagte wie se herinneringe hy in die boek saamgevat het.
Verder het hy die Dias Museum se argiewe geraadpleeg.
Maar wat die boek betref, is dit glo allermins 'n saai dokument, maar eerder propvol foto's van desjare se Mosselbaai en glo net so besaai met kleurvolle karakters.
"Ek is mal oor geskiedkundige geboue, maar die mense, die karakters wat lesers in hierdie boek gaan vind, is uniek."
Die boek gaan draai by lede van die vissersgemeenskap en ook bekendes in die boubedryf, soos die Pamplins, bekend vir hulle klipwerk wat nog in Mosselbaai te sien is.
Hy verwys na karakters soos Harry Scholtz, wat vanuit sy besonderse geheue, 'n terugblik gee oor hoe Langstraat desjare gelyk het.
Theunissen noem dat die destydse nedersetting by kaai 4, bestaan het uit 'n groep inwoners wat besonder heg aan mekaar is.
"Hulle almal het 'n mooi hegte verhouding met mekaar gehad en ook met diegene wat daardie tyd in die dorp, byvoorbeeld Hoogstraat en Klipperstraat gebly het. 'n Mens vergeet soms, dat dit juis in hierdie area was, waar die ekonomie van Mosselbaai eintlik ontstaan het."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'