Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - Toe Lluyle Arendse homself beloof het dat hy eendag 'n digbundel gaan publiseer, het hy vas geglo aan die gesegde, belofte maak skuld. Veral 'n belofte aan jouself. .
Dié 25-jarige, gebore en getoë in Groot-Brakrivier het pas sy eerste gepubliseerde bundel, Unspoken ontvang.
Unspoken gaan oor die platteland en sy unieke uitdagings, veral vir jongmense. "Daar is baie retrospeksie. Dis persoonlik. Dit gaan oor om jou purpose te vind. Juis ook om jongmense te help om moeilike goed te praat, soos geestesgesondheid."
Van sy skooldae af is hy lief vir skryf.
"Ek was versot op taal, beide Afrikaans en Engels en het van jongs af gehou om my daarin uit te druk."
Soos baie jonges het hy op skool 'n rymkletsgroep begin, maar gou besef dat die cool goed waaroor rymklets gaan, nie noodwendig die enigste goed is wat tot hom spreek nie. Sy eerste gedig skryf hy in sy graad 10-jaar.
Na matriek in 2013, moes hy met groter realisme na die wêreld kyk.
"Ek het besef rapmusiek is nie 'n lewe vir my nie. Dis nie 'n loopbaan nie. Daar is te veel risiko."
Kyk 'n video hieronder:
Nuwe koers
Hy sou gaan onderwys swot op UWK, maar toe hy in 2014 besef dat hy gaan pa word, moes hy sy planne op die langebaan sit en vir 'n jong gesin sorg.
Intussen skakel hy in by 'n onderwysinternskap, maar hy kry meer met administrasie as met skoolhou te doen. Tydens sy werk by Pick n Pay Fraaiuitzicht, ontmoet hy iemand wat sy koers help bepaal.
"Ek het 'n oom ontmoet en vir hom gesê ek skryf gedigte. Soms het ek vir hom van my werk gewys. Deur hom het ek groter blootstelling gekry."
Steeds met sy droom oor 'n bundel, het hy sy gedigte begin bymekaarmaak – vir eendag.
Lluyle verduidelik dat sy persoonlike ervaringswêreld sy gedigte inspireer. En gesprekke met ander.
"Ek vind dit baie interessant om met mense te gesels en hulle perspektiewe te probeer verstaan."
Hy skryf soos 'n gedagte of 'n emosie by hom opkom. En soms, as sy gedagtes hom uit die slaap hou, dan gaan skryf hy. Sy eerste formele, betaalde optrede was tydens die Diasfees in 2017. Daarna was hy 'n gereelde deelnemer aan Mokka (Mosselbaai Kreatiewe Kunste Assosiasie) se Open Mic-geleenthede, waar hy gereeld sy gedigte saam met musikante voordra.
"Ek hou van musiek wanneer ek voordra. Mense moet my digkuns as 'n soothing experience ervaar." Hy verkies om sy werk self voor te dra, omdat dit die egtheid van die emosie die beste weerspieël.
'Behep'
Hoe hy uiteindelik by sy uitgewer, Hannes Visser uitgekom het, is te danke aan weldoeners wat sy skryfkursus by Visser betaal het. Visser, redakteur van die Mossel Bay Advertiser se susterkoerant, Oudtshoorn Courant en self 'n gepubliseerde digter, is 'n mede-eienaar van die Turksvy Publikasies.
Lluyle sê hy het gevoel of hy "behep was met die digbundel wat hy wou skryf". En toe hy uiteindelik begin geld bymekaarmaak vir die druk daarvan, het dit nog meer onhaalbaar gevoel nie.
"Ek was eers bang dat daar te veel van my daarbuite is, maar nou is ek bly dis gedoen en klaar. Dit voel nog onwerklik, maar het my sommer die krag gegee om met die volgende een te begin."
Lluyle Arendse leef allerweë in 'n kreatiewe wêreld. "Ek sien meer as net die voorkant van 'n ding. Ek sien kuns in alles."
Hannes is opgewonde oor Llyule se debuutbundel.
"Sy werk is onpretensieus en geskryf in 'n unieke styl. Dit dien as voorbeeld dat 'n mens nie 'n slagoffer van jou omstandighede is nie, maar dit juis kan gebruik om êrens uit te kom."
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'