MOSSELBAAI NUUS - Twaalf aspirantdigters en liefhebbers van Afrikaanse poësie het Saterdag 'n digkunssessie by Klipheuwel Padstal buite Klein-Brakrivier bygewoon.
Laurinda Smith van Groot-Brakrivier het Hannes Visser, 'n digter, skrywer en joernalis van Oudtshoorn, genooi om 'n praktiese sessie oor digkuns aan te bied.
Hulle het met die aanvang van die sessie, digbundels van onder andere Daniel Hugo, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Gert Vlok Nel, Koos du Plessis en Ronelda Kamfer onder oë gehad.
Die groep het gedagtes oor gedigte uitgeruil waarna Visser enkele riglyne vir die skryf van gedigte voorgehou het.
Hy het uitgewei oor die digproses en ook oor die proses waarvolgens 'n bundel soos Nuwe Stemme 6 waarin van sy gedigte opgeneem is, saamgestel word.
Tydens die sessie van vier ure, wat met verversings onderbreek is, het elkeen geleentheid gekry om die aanvangstrofe van 'n eie gedig te skryf.
Die rol van skryfkringe in die ontwikkeling van skryfvaardigheid was ook 'n besprekingspunt.
Hierop het Visser gesê dat skryfkringe wat goed bestuur word 'n positiewe rol in die ontwikkleing van lede se skryfvaardigheid kan speel.
Behalwe digkuns is sy ander groot liefde die skryf van kortverhale en hy het ingestem om volgende jaar 'n soortgelyke, maar langer werksessie oor die skryf van kortverhale aan te bied.
Die groep wat 'n werksessie oor digkuns bygewoon het. Agter van links is: Hans Krul, Ina Dreyer Krul, Nicci van Loggerenberg, Laurinda Smit (organiseerder), Audrey Coetzee, Essie Cloete, Erina Smit en Hannes Visser. Voor links is: Lluyle Arendse, Karleine Herbst, Lorraine van Zyl en Lydie Terblanche.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'