MOSSELBAAI NUUS - 'n Apple iPhone ter waarde van R14 000 is onlangs vanuit 'n voertuig by die Heiderand-begraafplaas gesteel.
Die eienaar van die foon was slegs etlike meter verder besig om 'n grafsteen op 'n graf te sit toe die voorval plaasgevind het.
Die voertuig was nie gesluit nie en met die klaer se terugkeer was die selfoon weg.
"Ons bly in Suid-Afrika. Mense moet hulle voertuie sluit, maak nie saak waar hulle parkeer nie," sê die kommuikasiebeampte van die Mosselbaai-polisiestasie, ao Pieter Koekemoer.
"In slegs een week is daar twee klagtes van diefstal uit motorvoertuie by die polisiestasie aanhangig gemaak. In beide voorvalle het die klaers nie hulle voertuie gesluit nie."
Koekemoer sê speurders moet deur die dossiere werk en die voorvalle ondersoek. "Dit is in die eerste plek tydrowend.
"In die tweede plek is dit nalatig om goedere van waarde in 'n voertuig te laat rondlê en dan nie die voertuig te sluit nie."
In die tweede voorval is 'n skootrekenaar vanuit 'n voertuig op Mosselbaai gesteel. "Die klaer beweer dat sy met haar terugkeer by die voertuig besef het dat sy nie die deure gesluit het nie.
"'n Skootrekenaar ter waarde van R7 000 is uit die voertuig gesteel. Ons doen 'n ernstige beroep op inwoner van Mosselbaai om nie goedere in 'n voertuig te los nie en om voertuie te sluit."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'