MOSSELBAAI NUUS - Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met die gereelde diefstal van gesogte clivias uit 'n tuin in Outeniquastrand duskant Glentana nie.
Intussen hou die verdagtes aan om steeds, en soms selfs elke tweede dag, duur plante uit die tuin van mnr Willie Wentzel te steel. Al het Wentzel die diefstal by die Groot-Brakrivier-polisiestasie aangemeld en selfs R60 000 aan sekuriteit, wat spreiligte- en kameras insluit spandeer, hou die verdagtes aan om Wentzel se tuin te teiken.
Die woordvoerder van die polisiestasie, sers Chantel Marais sê 50 clivias, 15 rooi essenhoutbome en 15 Japanese broodbome is onlangs gesteel. Die diefstal het sedert Junie vanjaar toegeneem en Wentzel het groot verliese gely. 'n Geskatte waarde van R200 000 se plante is reeds gesteel is.
"Sommige plante word gebruik vir skoudoeleindes. Die waarde van 'n skouclivia beloop ongeveer R1 000 per plant," sê sers Marais.
Hoewel Wentzel selfs 'n privaat sekuriteitswag aangestel het, hou die diewe aan om sy plante te steel.
Volgens sers Marais ondersoek die polisie die saak. "Ons is te min lede om elke aand iemand tydens 'n skof in die omgewing van mnr Wentzel se huis te plaas. Ons ontplooi buurwaglede in die omgewing waar moontlik maar gedurende die tye wat die buurwag wel die omgewing gepatrolleer het, het die verdagtes nie toegeslaan nie."
'n Saak van huisbraak en diefstal word ondersoek.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'