MOSSELBAAI NUUS - As daar al ooit 'n aanduiding was van hoe desperaat en arrogant misdadigers is, blyk dit duidelik uit die diefstal van 'n kerkklok in D'Almeida, enkele 100m weg van die Da Gamaskop-polisiestasie.
Die voorval waartydens die kerkklok van die All Saints-gemeente in Mosselstraat gesteel is, het vermoedelik tussen 28 Januarie en 1 Februarie plaasgevind.
Die diewe het glo teen die kerktoring uitgeklim om by die kerkklok te kom waarna dit verwyder is.
Die kerkklok is ook aan stukke geslaan om dit enersyds minder herkenbaar te maak en andersyds makliker vanaf die misdaadtoneel te kon vervoer.
'n Verdagte man het op Donderdag, 1 Februarie stukke van die kerkklok by 'n skootwerf probeer verkwansel, maar toe die polisie tydens die beoogde transaksie op die toneel opdaag, het die man gevlug.
Op Saterdag, 3 Februarie het nog 'n verdagte man stukke van die klok by 'n ander skrootwerf probeer verkoop.
'n Agt-en-twintigjarige man is deur die Da Gamaskop-polisie in hegtenis geneem op 'n aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Die Mossel Bay Advertiser het teen druktyd verneem dat 'n tweede verdagte (20) in verband met die steel van die klok in hegtenis geneem is.
Twee sake, naamlik diefstal en besit van gesteelde goedere word ondersoek deur sers Donovan Geswindt en ao Richard van Eyck van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
Die geskatte waarde van die kerkklok word bereken op R30 000.
'n Gedeelte van die All Saints-kerk se klok, gebreek om dit makliker te verkwansel.
'Sondag nog gelui'
Coenraad Saayman, 'n opsigter by die kerk sê dat van die altaarbedienaars verlede week na die klok al weg was glo opgekyk het na die kerktoring en net die tou daar sien hang het.
"Die diefstal is Donderdag aangemeld. Sondag het die klok nog gelui."
Hy sê die klok moes deur minstens twee mense verwyder gewees het. Hy reken die klok weeg ver meer as 20kg. Boonop is die kloktoring hoog, minstens 15m volgens Saayman.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'