DANABAAI NUUS - Sowat R18 000 se elektroniese gereedskap is uit die motorhuis van 'n woning in E Emirastraat, Danabaai gesteel gedurende die nag van 18 tot 19 November.
Na wat verneem word, word daar in die omgewing van die huis waar die diefstal plaasgevind het, heelwat bouwerk gedoen.
Inwoners word daarom gemaan om versigtig te wees en te verseker dat veiligheidsvoorsiening by hul wonings opgeskerp word en dat dit te alle tye in 'n goeie, werkende toestand is.
"Moenie nalaat om ook in motorhuise alarmsensors te laat installeer nie, en toets alarms gereeld om te verseker dat dit behoorlik werk.
Maak seker dat diefwering ook voor vensters in motorhuise en buitegeboue aangebring word.
Kontak 'n sekuriteitskenner om wonings of besigheidspersele se swakpunte uit te wys en skerp veiligheidsmaatreëls op daardie terreine op.
Geen beveiliging is onfeilbaar nie, maar onbehoorlike beveiliging is lewensgevaarlik," waarsku 'n veiligheidskenner.
Hy maan ook dat inwoners vroegtydig moet verseker dat hul veiligheidsmaatreëls op standaard is alvorens hulle met vakansie vertrek.
Die ondersoekbeampte, sers Geoffery Moos (044 606 5600) van die KwaNonqaba-polisie vra dat enige persoon met inligting oor die voorval met hom moet skakel.
'Ons bring jou die nuutste Danabaai, Tuinroete nuus'