Met hierdie woorde het Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, Mosselbaai se top Matriekleerders vir 2013 elk net die beste toegewens met wat ookal op hul lewenspad sou kom. Top leerders van die onderskeie hoërskole in Mosselbaai is tydens 'n geselligheid op Maandag, 20 Januarie by die Mosselbaai Stadsaal elk 'n finansiële toegif gegee.
"Baie geluk met wat julle bereik het. Vorentoe sal julle besef die paadjie vanaf die 'ou Sub-A' tot en met vandag was maar baie kort. Nou lê die wêreld vir julle voor. As top presteerders het julle reeds bewys dat dit by julle nie aan toewyding en harde werk ontbreek nie. Julle sal dit vorentoe net so suksesvol maak; die pad vorentoe lê vir julle oop", het Raadsdame Ferreira bygevoeg.
Sy het ook die leerders se ouers en leerkragte bedank vir hul harde werk om die pad vir die jongklomp voor te berei.
"As ouers het julle jul ouerlike plig nagekom. Julle kan jul kinders die wêreld instuur, gerus in die wete dat julle net die beste vir hulle gegee het.
"Ook die leerders wat uit moeilike omstandighede gekom het, word spesifiek geluk gewens. Julle prestasie sê soveel van julle as mens en van julle karakter", het Raadsdame Ferreira bygevoeg.
Leerders en ouers het na afloop van die formaliteite gesellig saam met die burgemeester en raadslede 'n vingerhappie geniet.

Nie al die top presteerders kon die Burgemeestersfunksie bywoon nie en waar moontlik het studente wat reeds by hul onderskeie universteite moes aanmeld, se trotse ouers hul toegiffie kom ontvang.

Maseeha Essack en haar trotste ouers het die geleentheid baie geniet.
Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'