Video
MOSSELBAAI NUUS - Inskrywings vir Mossel Bay Advertiser se braaibroodjie-kompetisie het 12 Augustus gesluit en ons lesers het gewys hulle ken van braaibroodjies maak!
Uit 'n legio inskrywings is vyf finaliste met moeite gekies.
Die topvyf sal Saterdag, 17 September, om 13:00 hul braaibroodjies tydens 'n spesiale geleentheid by die Koswerf Restaurant van die ATKV-oord op Hartenbos, vir die beoordeelaars braai.
Inwoners is welkom om die geleentheid by te woon.
Elke finalis sal minstens ses tot agt broodjies braai sodat die publiek ook kan proe hoe 'n goeie braaibroodjie behoort te smaak.
Burgemeester Dirk Kotzé, eienaar en sjef van Artizaan by St Vintcent Square, Suzaan Rauch en joernalis, Louise Karsten gaan die broodjies beoordeel en die algehele wenner aankondig.
Ontmoet ons finaliste.
Cathryn en Pieter le Roux se biltong-braaibroodjie het die beoordelaars beïndruk. Die egpaar is reeds 38 jaar getroud en weet dus hoe om saam 'n braaibroodjie te maak wat nie brand nie.
Hulle braai minstens drie keer 'n week en altyd op 'n Donderdag. Hulle woon op Hartenbos en sê hulle braaibroodjie is nie alledaags nie. "Ons kombineer sout en soet.
Ons meen dit is die braaibroodjie vir spesiale geleenthede." Hulle bestanddele sluit onder meer in biltong, rooi uie, roomkaas en suurdeeg of witbrood.Tanya Naude oftewel Tantjies, soos sy onder haar vriende bekend is, se braaibroodjie bevat onder meer briekaas. Ook knoffelbotter, vars kruie, spek en songedroogte tamaties. Sy woon op Mosselbaai en is passievol oor kos. "Ek is groot op braai en bykosse en 'n braaibroodjie is mos maar 'n moet. My braaibroodjie is 'n gunsteling in ons huis. Net soos 'n kleurvolle skildery is die braaibroodjie 'n ontploffing van smaak op jou pallet en 'n stukkie kuns op sy eie met die kleure en geure wat braaivleis afrond."
VIDEO - Ons Braaibroodjie Master Finaliste (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertser).
Alida Stander woon saam met haar man, Hein, twee kinders en haar skoonma op Danabaai. Hulle het lang werksure en braai dus relatief min. "Ons probeer om minstens een keer 'n maand te braai en dan is braaibroodjies op die spyskaart." Alida het 'n baie unieke braaibroodjie ingeskryf en noem dit haar nagereg-braaibroodjie. Dit bestaan uit onder meer gesmelte sjokolade, roomkaas, bloubessies, witbrood en lemmetjies.
Heidi Serfontein woon op Hartenbos. Haar man werk in Texas vir bykans 10 maande van die jaar. Wanneer hy egter tuis is braai hulle minstens vier keer 'n week. "Al kom ek van 'n skaapplaas in die Karoo is ek nie baie lief vir vleis nie. Daarom eksperimenteer ek graag met braaibroodjies. Vir my is 'n braaibroodjie nie 'n bykos nie. Dit moet uniek wees sodat gaste ná een hap onmiddelik sê dit is die lekkerste braaibroodjie ooit." Heidi se braaibroodjie bevat onder meer vye, bloukaas en spinasie.
Delmaine van der Merwe woon op Groot-Brakrivier en sy hou van braai. Sy sê daar word minstens drie keer 'n week 'n vuurtjie by haar huis aangesteek. "Ek hou van nuwe resepte maar hierdie is verseker my wenresep. Delmaine maak 'n braaibrood en gebruik een groot Ciabatta. "Gaan groot of gaan huistoe," is haar leuse.
Pieter en Cathryn le Roux
Tanya Naude
Alida Stander
Heidi Serfontein
Delmaine van der Merwe
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'