MOSSELBAAI NUUS - Dat 'n vrou van Johannesburg wat verlede jaar op Hermanus 'n Mosselbaaise kunstenaar ontmoet het, haar handsak wat die naweek gesteel is juis danksy die einste kunstenaar teruggekry het, kan slegs as 'n ongelooflike sameloop van omstandighede verklaar word.
Die 51-jarige vrou, wat verkies om anoniem te bly, het laat Saterdagaand vanaf Montecasino in Fourways, Johannesburg huis toe gery toe sy agter 'n ander voertuig by 'n padblokkade gestop het.
Lede van die metropolisie het met 'n flitslig aangetoon dat sy moet aanbeweeg. Sy het 'n entjie verder by die verkeerslig gestop. "Net toe ek my voet op die petrol wil sit, klink dit asof 'n bom langs my ontplof.
"Ek het verskriklik groot geskrik. Ek was die slagoffer van 'n smash and grab," het die vrou telefonies aan die Mossel Bay Advertiser verduidelik.
Die motorruit aan die passasierskant is uitgeslaan, iemand het die vrou se handsak gegryp en in die bosse langs die pad verdwyn.
Volgens die vrou was die metropolisie haar nie in daardie stadium behulpsaam nie vanweë hulle betrokkenheid by die padblokkade.
"Ek is nog steeds verskriklik getraumatiseerd en gaan binnekort vir berading. Dis 'n splinternuwe motor wat maar 400km op het."
Onder die inhoud van haar gesteelde handsak, was ook haar paspoort. Sy is voornemens om in Junie vanjaar op 'n oorsese reis te gaan.
Mosselbaaise skilder
Sondagoggend, 18 Maart kry Mosselbaaise kunstenaar Liani Swanepoel 'n oproep op haar selfoon. Met haar kinders uit die huis, oortuig moederlike instink haar om te antwoord. 'n Man wat sê hy bel van Witkoppen af vra haar toe of sy 'n *Riana ken, want hy het haar handsak opgetel.
"Ek het glad nie verstaan nie en gedink dalk is dit iemand wat vir my man werk en dat Witkoppen 'n plaas of iets buitekant die dorp is. Maar iets het net vir my gesê ek moet meer uitvra." Die man het gesê dat hy Liani se kaartjie in die handsak gekry het, vandaar die oproep.
"Ek het hom gevra of hy kan kyk of daar ander besonderhede van die vrou is soos 'n van of iets. Hy het afgelui en gesê hy sal my terugbel."
Toe hy terugbel, versterk die man die vrou se van soos op die identiteitskaart wat hy in die handsak gevind het.
"Ek het nie 'n clue gehad wat ek moet doen nie. Ek het net sy nommer gevat en vir die Here gevra om my te help." Tydens 'n soektog op facebook, vind Liani 'n vrou met dieselfde naam wat in Johannesburg bly. "Toe Google ek Witkoppen en sien dis in Johannesburg.
"Ek vat toe maar 'n kans en stuur 'n boodskap op facebook waarin ek haar vra of haar handsak dalk gesteel is."
Herenig met handsak
Na *Riana se nagmerrie-ondervinding Saterdagaand, was sy geweldig ontsteld. "Ek doen nie die facebookding nie, maar onder druk van vriendinne het ek wel 'n profiel daar geskep." Toe sy weer veilig tuis is en vanaf haar rekenaar op haar facebook-profiel inskakel, kry sy Liani se boodskap uit die bloute. Na 'n oproep of twee, is inligting uitgeruil en is *Riana met haar gesteelde handsak herenig.
"My skoonseun en my dogter het saam met my gegaan om die man te ontmoet. Ek het nie eintlik baie met hom gepraat nie. Ek was nog te geskok na alles wat gebeur het." Sy het sonder dat die man daarop aangedring het, 'n beloning gegee.
"Alles in my handsak wat netjies. Selfs 'n klein briefie van my kleindogter was nog daarin soos ek dit gelaat het. My paspoort was ook nog daar." Die kontant wat in haar handsak was, asook 'n selfoon is egter vermis.
Sy vertel dat tydens haar besoek aan Hermanus verlede jaar sy telkens teruggekeer het na Liani se kunsstalletjie.
"Die ding wat vir my die meeste uitstaan te midde van die gebeure, is dat ek verlede jaar tydens my besoek aan Hermanus drie keer terug is na Liani se stalletjie.
"Dit was vir my net die mooiste verfwerk. Ek het iets vir my kleinkinders gekoop, Liani se kaartjie gevat en gesê dat sy eendag vir my 'n engel moet verf. Haar besigheidskaartjie is die enigste kaartjie wat ek in my handsak dra."
*Riana - skuilnaam vir die anonieme vrou van Johannesburg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'