Video
SUID-KAAP NUUS - As jy eers Hannes Visser se gedigte gehoor of gelees het, is dit tickets, neusie verby en koebaai vir enige apatie wat jy dalk voorheen oor digkuns sou koester.
Visser, 'n skrywer, digter, kunstenaar, meubelmaker, neuro-linguistiese programmeerder en redakteur van Oudtshoorn Courant, se debuutbundel is op pad, maar tot tyd en wyl is van sy gedigte vervat in die pas uitgereikte Nuwe Stemme 6 wat Saterdag by die Breytenbachsentrum in Wellington bekendgestel is.
Visser en 15 van die 21 nuwe stemme, het elkeen twee gedigte van hulle keuse voorgelees, en Visser het die stampvol Tuin van Digters se aandag woord vir woord gevange gehou terwyl hy hulle verbeelding vrye teuels gegee het.
Sewe van sy gedigte is in die bundel opgeneem, en die gerekende digter en literêre akademikus, Joan Hambidge het in haar resensie van Nuwe Stemme 6 op www.joanhambidge.blogspot.co.za geskryf: "Hannes Visser se gedigte ruk aan die keel. Jeugherinneringe - in 'n soort dagboekvorm aangebied - neem die leser deur die onthou-tog van 'n pynlike jeug; helder vertel in digvorm met die emosies in beheer. Die sirkelgang illustreer die beheer wat die spreker het oor sy jeug: eers kap pa 'n bordjie in; dan ma. Min woorde - trefkrag."
Amen. Hy skryf ook rubrieke en fiksie en sy eerste misdaadroman sien eersdaags die lig. Van sy kortverhale en die lykgedig oor sy pa se dood is by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se nasionale skryfkompetisie bekroon.
Hy is in 1957 in Roodepoort gebore, maar woon reeds 25 jaar in die Suid-Kaap. Hy en sy vrou, Manda, het hulle in 2012 op Oudtshoorn gevestig en die egpaar het 'n seun, Anton en dogter, Tanya.
Kontak Hannes Visser op Facebook, by hannes@groupeditors.co.za of 083 4671522. En maak seker jy koop die boek en al die ander wat nog uit sy pen gaan vloei.
Kyk 'n video hieronder.
Nuwe Stemme 6 - Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé (samest.), Tafelberg, 2017
Trudie Coetzee is 'n rooikop 22-jarige sielkundestudent van Pretoria en sy is mal oor groente, kaas, katte en geel.
Ryan Pedro (24) sê hy het ses jaar gelede uit Kakamas ontsnap na Stellenbosch en is 'n taalstudent en vryskutfotograaf.
Die samestellers van Nuwe Stemme 6, Bibi Slippers (voor met geel bloes) en Charl-Pierre Naudé (langs haar) by die nuwe stemme wat hulle gedigte by die Tuin van Digters voorgelees het.
In ligte luim in die Tuin van Digters is van links: Ilse Schoonraad, Trudie Coetzee en 'n vriend, Wilma Coetzee en Marinda Schoonraad.
ARTIKEL & VIDEO: ILSE SCHOONRAAD
FOTO'S: MARLENE MALAN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'