MOSSELBAAI NUUS - Tydens Hartenbos VLV se vergadering in April het Elna Gous van die streeksbiblioteek in Mosselbaai die doelwitte van die Wes-Kaap se biblioteke uitgewys naamlik om gratis dienste te lewer in lees- en leerbehoeftes, asook toegang te voorsien na rekenaar- en internetdienste.
Die ontstaan van biblioteke is aan Joachim van Dressin te danke wat in 1761 sy versameling van 3 850 boeke aan die gemeenskap geskenk het.
Daar is 28 biblioteke in die Mosselbaaistreek en nog een gaan binnekort in Brandwag oopgemaak word. Plus minus 158 137 nuwe boeke word jaarliks aangekoop en versprei na die verskillende biblioteke.
Suzaan Vermeulen lig die lede in oor die ontstaan van die Hartenbos-biblioteek wat 'n deel uitmaak van Mosselbaai-biblioteekdienste.
Met die inwyding van Hartenbos se munisipalekantore in 1985 is die huidige biblioteek ingebruik geneem. Die ledetal staan tans op 4 647 volwasse- en 512 kinderlede.
Buiten vir die boeke, CDs, DVDs en legkaarte beskik die biblioteek ook oor audioboeke op versoek, asook tydskrifte en koerante. Rekenaars is beskikbaar vir die publiek asook toegang tot gratis internet.
Martie Visagie, Elna Gous van die streeksbiblioteek, Karen Kruger, Tertia du B Smith, Ida van Tonder en Suzaan Vermeulen van die Hartenbos-biblioteek tydens die Hartenbos VLV se laaste vergadering.'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'