MOSSELBAAI NUUS - Die misterieuse bokkop by die ATKV Hartenbos Museum het dalk nog nie 'n amptelike naam nie, maar hy het beslis in die laaste week nie net bekendheid verwerf nie, maar ook groot reaksie ontlok.
Op die Mossel Bay Advertiser se Facebook-blad het talle inwoners 'n raaiskoot gewaag - sommige meer wetenskaplik as ander.
Die meeste van dié skote is in die rigting van 'n bastergemsbok (roan antelope) of 'n bloubok gemik.
Tussenin was daar ook hier en daar 'n stem vir 'n tsessebe (algemeen meer bekend as 'n topi) en selfs 'n alpine ibex. Laasgenoende is egter baie onwaarskynlik omdat dié spesie 'n boksoort is, wat in die Alpynse gebergtes van Europa voorkom.
Die koerant het ook na die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) en die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (PHASA) uitgereik om hul insette te kry.
Die twee organisasies is dit eens: dit is 'n bastergemsbok. Boetie Kirchner, die bestuurder van jagsake vir die SAJWV sê die bloubok het reeds rondom 1800 uitgesterf, het baie dunner horings gehad en was 'n heelwat kleiner bok as die bastergemsbok, wat die tweede grootste bokspesie in Afrika is.
"Sover ek weet is daar slegs twee bloubokvoorbeelde in museums. Die glas-oë van die betrokke bokkop daar by julle dateer ook veel later as die 1800's en daarom dink ek dit is hoogs onwaarskynlik dat dit 'n bloubok kan wees."
Die Facebook-plasing van die berig het meer as 50 000 gebruikers bereik.
In dié plasing se kommentaarafdeling sê Dewald du Plessis die volgende: "Bastergemsbok (Hippotragus equinus), hoewel baie oud met baie van die pels wat uitgeval het. Ek het al 'n paar bastergemsbokhorings vir 'n museum versorg wat in Knysna versamel is. Die Klein Karoo ten noorde word dikwels as die oorgangsone tussen dit en die uitgestorwe bloubok beskou, alhoewel laasgenoemde blykbaar nog tot in die 1850's in Lesotho en langs die Liebenbergstroom buite Bethlehem teenwoordig was."
Ook op Facebook sê Thinus en Sanet Steyn dit is nie 'n voorbeeld van goeie taksidermie nie.
"Die mees waarskynlike antwoord is dat dit 'n bastergemsbok is en dat die montering deur die jare verblyk het, wat wel met, veral ou taksidermie werk, gebeur. Ek sou graag wou hê dat dit die uitgestorwe bloubok (Hippotragus leucophaeus) is, maar dit is onwaarskynlik aangesien hulle in die 1800's uitgesterf het.
"Sovêr bekend is die enigste vier monterings van die bloubok wat behoue gebly het in Leiden, Stockholm, Wene, en Parys (Frankryk, nie in die Vrystaat nie). Indien dit wel 'n bloubok is, en DNA toetse sal dit kan bepaal, is dit 'n baie waardevolle fonds."
In die minder wetenskaplike afdeling van die kommentaar was daar natuurlik 'n paar terggeeste. Hulle het op hul beurte gereken dis 'n bok vir sport, 'n dooie bok, 'n opregte bok (want sy pa en sy ma was 'n bok), 'n bok onder die invloed (as gevolg van sy oë), en een Facebook-gebruiker se skoonma het selfs onder 'n vergelyking deurgeloop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’