Oor Broekies die onnie en rugbyman van die SWD, en René se manewales op die tennisbaan, moet maar in die rugby-annale nagelees en by hul vriendekring opgediep word...
Daar, in hul eerste huisie in 6de Laan: GPS van destyds "anderkant die Rondehuis", het die gesin gegroei tot vier spruite (nadat die Groot Visserman reeds daardie jare twee van hul babas kort na geboorte kom haal het).
Die jongste twee Vissertjies, Tersie (Tertia Suzanne) en Boetie (Jacobus Du Toit), was vrolike, uitgelate, geliefde en talentvolle twee pokkel-engeltjies, maar, soos almal van ons ook soms met duiweltjies agter die ore. Oor die "Kaskenades van Boetie en Tersie" wil Hannatjie (Bruwer), die letterkundige, nog 'n boek skryf.
So het hierdie twee jongstes nie hul talente onder 'n maatemmer verberg nie - operettes, eisteddfods, 'fancydress'-kompetisies op Santosstrand, skole- en Cravenweek rugby, was alles deel van hul repertoir. In 1977 was Tersie en (dr) Bennett Stander die hoofleerders van Hoërskool Punt (toe pas in die nuwe skoolgebou) en in 1979 was Boetie saam met Marianne van Rensburg die hoofseun en -meisie.
As studente by die universiteit van Stellenbosch en in hul beroepe het beide hulself voluit en passievol gegee:- Tersie in die onderwys op Kareedouw, Springbok, Outeniqua Hoërskool, by Denel as sielkundige vir personeelkeurings en, laastens, die geliefde juffrou met die reguit woordeskat by Olympia-skool op George. Die laaste paar jaar het sy en haar man, Johan Gericke, hul toegewy aan 'n droom en die ontwikkeling en bedryf van die Herolds Bay Eco Resort met die Bush Lapa, Down to Earth Restaurant en Gastehuise, op die Gerickes se familieplaas by Duttons' Cove, Heroldsbaai.
Boetie, oftewel ook Broekies, het naas die akademie ook op die rugbyveld uitgeblink en vir Laer- en Hoërskool Cravenweek, Maties en Provinsiale spanne tydens sy Dienspligjare uitgedraf. Hy was geliefd, veelsydig en toegewyd as leier - dikwels rugbykaptein; Primarius van Hippokrates, en betrokke in die gemeenskap, sport- en kultuurkringe. As mediese praktisyn op Somerset-Wes was hy 'n gesinsman by uitstek.
Toe hierdie jongste twee spruite van Broekies en René verlede jaar byna gelyktydig met kolonkanker gediagnoseer is, en die siekte so aggressief versprei het, was die familie verpletter, maar het nie naastenby vermoed dat die Groot Visserman só gou sou kom oes nie. Skaars 'n jaar later, op 2 en 9 September 2011, presies 'n week na mekaar, het Hy vir Tertia Gericke (52) en dr Broekies Visser (50) kom haal. Ons koester en eer hul nagedagtenis en hul humor weerklink nog in ons ore.
Namens Broekies en René Visser en familie bedank ons vriende, kennisse, en die gemeenskap van Mosselbaai en omgewing, vir simpatie, ondersteuning, blomme en kaartjies. Vir Tania, Du Toit, Anina en Michelle Visser en Johan Gericke en seuns, Stephan en Christian - ons opregte dank vir jul liefde, ondersteuning, bystand en versorging van Boetie en Tersie en ons gebede vir troos en krag gaan met julle.

Hierdie foto van Broekies (Boetie) Visser saam met sy oudste twee kinders, Du Toit en Anina is enkele weke voor sy dood geneem en die kinders noem dit: 'May the angels lead you in'.