'n Eerste
"Die fees is deur die Wes-Kaapse Premier, me Helen Zille, geopen, en behalwe Fiësta, het selfs die Chinese nasionale televisiediens, CCTV, opnames van die Diasfees gemaak. Dit was dalk 'n eerste vir 'n Suid-Afrikaanse dorpsfees."
"Buiten die eerste dag toe die wind in stadiums sterk gewaai het, het die weer goed saamgespeel en kon feesgangers werklik die groot verskeidenheid uitstallings, verhoogoptredes, die lugskou en stalletjies geniet," meen Raadsdame Ferreira.
Verhoogkunstenaars soos Emo Adams, Lloyd Cele, Heinz Winckler, Monique en Gerrie Pretorius, die Indonesiese volksdansers, rubbersteweldansers en die rieldansers van Wupperthal was vanjaar 'n hoogtepunt. Die kultuurkonsert, waar die rubbersteweldansers, Khoi-dansers, 'n plaaslike koperblaasorkers en Indonesiese- en Portugese volksdansers opgetree het, was van die talle hoogtepunte. Die straatparade was ook baie groter as in die verlede.
"Ek wil graag almal wat 'n bydrae tot die fees gemaak het, of dit bygewoon het, van harte bedank vir u ondersteuning, en die wyse waarop u bygedra het tot die feestema van 'Waar Kulture Ontmoet'. Nogmaals baie dankie," het Raadsdame Ferreira gesê.
"Die fees maak ongetwyfeld 'n ekonomiese bydrae tot die ekonomie van Mosselbaai. Die Mosselbaai Besigheidskamer wil die munisipaliteit loof vir die puik reëlings en die inisiatief wat hulle aan die dag lê om mense na Mosselbaai te lok deur middel van feeste. Die Diasfees is nou gevestig en sal in die toekoms net groei," het die voorsitter van die Mosselbaai Besigheidskamer, mnr Johan van Rensburg, aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Raak betrokke
"Plaaslike besighede moet aktief en kreatief betrokke raak by die fees. Een winkelsentrum het die Portugese- en Indonsiese dansers op Saterdag laat optree en die terugvoer is dat dit 'n groot sukses was. Beide kliënte en huurders het die feestelike atmosfeer baie geniet. 'n Ander winkelsentrum berig dat dit uitsonderlik stil was in dié sentrum. 'n Plaaslike hotel rapporteer dat hulle vir die naweek vol bespreek was," berig mnr Van Rensburg.
Mosselbaai Toerisme se hoofbedryfsbeampte, Marcia Holm, sê die oorwegende indruk was dat Diasfees 2014 'n besondere sukses was.
"Die munisipaliteit moet gelukgewens word met die goeie gees en harde werk om die gemeenskap 'n fees te bied wat die verskillende gemeenskappe saamgesnoer het," aldus me Holm.
Sy het bygevoeg dat verskeie akkommodasie-instellings bygedra het tot die sukses van die fees deur verblyf aan kunstenaars en ander deelnemers te borg.
Dit was opvallend dat baie meer besoekers van omliggende dorpe die fees bygewoon het.
Group Editors
Die Munisipale Bestuurder, dr Michele Gratz, het ook in 'n brief aan die Mossel Bay Advertiser se uitgewer, Group Editors, waardering uitgespreek vir die dekking wat die fees in beide die Advertiser, die Mossel Bay Home Ads News, en die vier ander susterkoerante gekry het. Group Editors was die Diasfees se mediaborg.
"Dit word geskat dat die 2014 Diasfees 20% meer besoekers gelok het as die 2013-fees. Die Mossel Bay Advertiser se redaksionele dekking van die fees was ongetwyfeld 'n groot bydraende faktor in hierdie verband," het dr Gratz gesê.
Sien nog foto's hier.

Mia, 'n pugg, is in die agterlyf verlam, maar dit het haar nie gekeer om aan die gewilde Woefie Wandel, wat deel gevorm het van die Diasfees, deel te neem nie. Foto: Sean Snyman
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'