MOSSELBAAI NUUS - 'n Geskokte vakansieganger wat in Diasstrand tuisgegaan het, het sy misnoeë oor 'n vuisslanery buitekant sy hotel te kenne gegee op die Mossel Bay Advertiser se facebookblad.
Die man van Langebaan skryf:
"My eerste ervaring van Diaz Strand, 2/1/2018 12:30. Die mooiste wit strande, ongerepte oseaan en 'n geweldige klomp jong mense buite beheer! Ek het vanaand uit my hotelkamer gesien hoe 'n jong man ter pletter geslaan word en herhaardelik teen die kop geskop word terwyl hy lê.
"Die arme sekuriteitsman het sy hande vol gehad en uiteindelik die polisie en ambulans gebel. Binne 10 minute het 'n jong man by dieselfde kroeg handgemeen geraak met 'n vrou! My baie beskeie vraag is: hoe veilig is Diaz Strand om my eie kinders los te laat as dit die aktiwiteite aan die orde van die dag is? Waar is die beheer, kontrole en polisiëring met drank verkope?"
Die vakansieganger van Langebaan het vandeesweek by navraag telefonies aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hy die vuisslanery vanaf sy hotelbalkon kon sien.
Die voorval het na bewering by 'n kuierplek in Diasstrand plaasgevind. Die Mossel Bay Advertiser het die eienaar van Café Rock in Diasstrand wat tydens die beweringe geïmpliseer is, gekontak.
Riaan Klopper het bevestig dat hy van die gebeure kennis dra, maar dat die voorval nie by sy kuierplek nie, maar in die openbare parkeerplek plaasgevind het.
Volgens Klopper het die jong man ter sprake eers 'n vrou geslaan wat daartoe aanleiding gegee het dat ooggetuies hom toegetakel het. "Ek wil 'n regstelling maak dat die voorval geensinds op my perseel plaasgevind het nie." Hy het ook gesê dat dit problematies is dat mense tydens die seisoentyd reeds elders gekuier het en dan rondbeweeg het na verskillende plekke waar hulle dan ook alkohol gebruik het.
Klopper het gesê dat die sekuriteitswag waarna verwys word, deel van 'n algemene sekuriteitspan in die Diasstrand-omgewing is, waarvoor die eienaars van sakeondernemings gesamentlik betaal.
Die vakansieganger van Langebaan het gesê dat hy ten spyte van die voorval, sy kuier in Mosselbaai baie geniet het en beslis weer die dorp sal besoek.
Hy het ook met die hoogste lof gepraat van die hotel in Diasstrand waar hy tuisgegaan het.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'