MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Advertiser het met Kallie Burger, marathon-atleet van Murray & Roberts se elite-atletiekspan gesels oor sy atletiekloopbaan. Hy het onlangs met sy gesin van Johannesburg na Mosselbaai verhuis.
Uit hoofde van sy ryke ervaring, sal Burger van tyd tot tyd bydraes aan die Advertiser lewer wat insluit inligting oor oefenprogramme, diëte, skoene en vele ander aspekte van die sport.
Hy vertel dat hy in 1987 in Durban gestaan en wag het vir sy pa om sy eerste Comrades klaar te maak.
"Ek het na my ma toe gedraai en gesê ek wil ook," vertel Burger. Hy het as 'n sewejarige seun begin hardloop en sedertdien nog nooit gestop nie.
"Vir my het dit 'n leefstyl geword. Ek het my eerste Comrades in 2005 gehardloop en het al meer as 170 marathons gehardloop. Hardloop het my al orals oor die wêreld heen gevat en ek het soveel ongelooflike mense ontmoet."
Tans as kontrakteur in die konstruksiebedryf, maak hy altyd tyd om te oefen. Deur die jare het Burger 'n lang lys van prestasies behaal.
Hoogtepunte tydens sy atletiekloopbaan is toe hy in 1998 en 1999 Suid-Afrikaanse kleure en goud verwerf het vir resiesstap. In 2019, verteenwoordig hy Suid-Afrika by die Wêreld-meestersatletiekkampioenskap in Pole. Hy behaal vyfde en sesde plekke in onderskeidelik die 10km en 21km. Onlangs was hy kaptein van die span wat goud gewen het by die 50km Afrika-kampioenskap in Nigerië.
Van sy ander topprestasies in 2019, is 'n eerste plek by die Mauritius-marathon en tweede plek by die Sierra Leone-marathon. Hy kom tweede in die Las Vegas-marathon in 2017 en behaal 'n derde plek by die Niagara Falls-marathon in 2016. Ook in die Bunbury-marathon in Australia behaal hy in 2009 'n eerste plek en 'n derde plek in die Perth-marathon daardie selfde jaar.
New York-marathon
In 2016 en 2017 is hy die eerste Suid-Afrikaanse atleet onder die top 100 by die New York-marathon. Verskeie ander prestasies sluit in 10 silwer medaljes by die Two Oceans Marathon, 10 silwer medaljes by die Loskop-marathon en nog 10 silwer by die Om die dam-marathon. By die Comrades het hy al met nege silwer medaljes weggestap.
Buiten atletiek, het hy ook Noordwes o/19 provinsiale kleure in rugby verwerf, asook sy Suid-Afrikaanse kleure in o/23 binnenshuise krieketk.
Burger sê ons almal beskik die vermoë of te hardloop. Dit is die mees natuurlike ding wat ons as mens kan doen.
"Of jy dit wil glo of nie, ons almal het van kindsbeen af rondgehardloop in die tuin saam met maats as ons speel. Soos ons ouer word, word ons luier en ons stop," sê hy.
Burger sê dat almal 'n beter en gesonder leefstyl kan ontwikkel deur net te begin hardloop of stap. Volgens hom is die eerste stap net om te begin .
"Stap om die blok of doen jou eerste parkrun. Ek wil hierdie pad saam met die gemeenskap stap en ek sal my kennis gratis aanbied om enigiemand by te staan en help. Ek het so baie uit sport gekry en wil graag terugploeg. Van die beginner tot die meer ervare atlete."
Mosselbaaiers kan gerus hierdie ervare atleet kontak by kallieyster@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'