MOSSELBAAI NUUS - 'n Familie van Kaapstad hoop om na ses jaar antwoorde te kry nadat hulle dogter, Le-Jeandre de Bruyn (15) in 2014 vermis geraak het en die hoofverdagte in die saak op 30 Oktober op Mosselbaai in verband met haar verdwyning in hegtenis geneem is.
James Jonas is deur 'n taakspan van Wynberg in KwaNonqaba vasgetrek.
Hy was voorheen in 'n verhouding met Le-Jeandre se ma, Catherine. Le-Jeandre het op 7 Oktober, 2014 spoorloos verdwyn nadat sy laas by die militêre basis in Wynberg gesien is.
Jonas is destyds deur die polisie ondervra, maar het kort daarna verdwyn. Hy het die afgelope ses jaar vir die polisie gevlug.
Jonas is saam met die taakspan terug na Wynberg waar hy op Woensdag, 4 November in die landdroshof verskyn het. Die aanklagte teen hom was teen druktyd nog onduidelik.
Le-Jeandre se pa, Warren de Bruyn (44) het met die Mossel Bay Advertiser oor Jonas se inhegtenisname gesels.
Hy en haar ma, Catherine praat steeds gereeld met mekaar en is reeds 17 jaar geskei. "Ons is verlig oor die deurbraak. Hy was die laaste persoon wat saam met Le-Jeandre gesien is."
De Bruyn sê die pyn is steeds met hulle, elke dag. "Dit is ses jaar later en ons weet nie waar ons dogter is nie.
"Ons weet nie wat van haar geword het nie. Ons soek antwoorde en ons smag na uitklaring." Hy sê die familie hoop dat Jonas dit vir hulle sal bied.
Le-Jeandre de Bruyn is nooit gevind nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'