Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Dis nie aldag dat 'n mens op byna 66-jarige ouderdom feitlik oornag besluit om die Otter-staproete aan te durf nie. Maar Denise Lloyd is ook nie jou alledaagse 66-jarige nie.
Denise, tans bemarkingshoof van die Hartenbos Seefront, het vroeg in Maart seker gemaak dat sy hierdie avontuur op haar emmerskoplysie kan afmerk.
"Ek hou van uitdagings en van stap ook. Ek het nogal gedink dat ek eendag die Otter sou wou stap."
Na 'n besonder besige Desembermaand, wou sy haarself met iets buitengewoons beloon. Toe daar twee plekke op die Otter beskikbaar raak, het sy die geleentheid aangegryp, juis omdat 'n mens tot twee jaar kan wag om jou beurt op dié befaamde roete te kry.
Teen middel Januarie het sy haar beste belegging in haar stapavontuur gemaak deur die regte skoene te koop. Hoewel die prys haar asem byna weggeslaan, vertel sy nou dat dit elke sent werd was.
"Ek het nie 'n enkele blaas opgedoen nie, selfs al het ek skoene en al deur die rivier gestap en daarna met die nat skoene en sokkies aan verder geloop het."
Met dapper en stapper - Denise Lloyd durf die Otter-staproete aan.
Voor sy die staptog aangedurf het, het sy egter die voorgeskrewe 100km met haar skoene geklok. Verder ter voorbereiding het sy twee dagroetes gedoen, wat soortgelyke uitdagings as die Otter bied.
"Veral Robberg, was 'n eye opener. Ek was baie dankbaar oor die blootstelling." Sy het ook die ATKV-amfiteater op Hartenbos se trappe, goed leer ken. Vir die laaste twee weke voor die stap, het sy tot 800 trappe op 'n slag in die amfiteater geklim.
Klink dalk oordadig? Inteendeel! Die Otter spog by beraming met 'n allemintige 7 000 trappe op en af. Volgens 'n artikel wat sy gelees het na die tyd, sê Denise is dit twee keer die hoogte van Tafelberg.
Haar sak was net te swaar meen sy. Sy verwys na die 15kg-las as die "monster" op haar rug. Op die eerste dag het sy met 'n rots kennisgemaak en met 'n paar bloukolle daarvan afgekom, maar genadiglik, was daar geen erge beserings nie.
FOTOGALERY: Otter-staproete aangepak deur 66-jarige vrou
Maar die val is alweer vergete en sy sê klaar wat sy volgende keer anders sal doen.
"Ek sal beslis met 'n stapmaat wil stap. Mens kan dit nie alleen doen nie. Ek sal ook beslis nie weer kos inpak vir 'n army nie. Water, 'n shake, proteïen-stafie en 'n paar stukkies biltong sal genoeg wees."
VIDEO: Denise Lloyd troef die Otter met durf
Die pleisters en die Deep Heat gaan sy ook by die huis los. Op dag drie van die staptog, het sy die ontsnappingsroete geneem, bloot omdat sy gevoel het dit onregverdig teenoor die ander stappers was om haar te moes vergesel, terwyl hulle reeds in pare was.
Dit klink dalk makliker as wat dit uiteindelik was, want sowat van 'n geklimmery kan mens jou volgens Denise se vertelling kwalik indink.
"Die steiltes op pad terug N2 toe wou net nie ent kry nie, in 'n stadium het ek gedink ek is op pad hemel toe," skerts sy.
Met 'n ligter sak reken sy, sou die ganse prentjie anders gewees het. "Kyk, die Otter is nie vir sissies nie, maar dis ook nie só erg nie. Hoewel, as jy vir hoogtes skrik, bly weg."
Sy vertel met smaak hoe sy plek-plek moes afseil en aan takke moes swaai.
"As jy die geleentheid kry, gryp hom. Die natuurskoon is asemrowend mooi. Iets gebeur met jou as jy so alleen in die ongereptheid stap. Ek is glad nie spyt nie, al het ek hoe groot geskrik ná die val, is die letsels lankal weg."
Gee haar 'n ligter sak, so 10-11kg en sy gaan beslis weer.
Die asemrowende natuurskoon van die Otter-staproete, meen Denise Lloyd, is onbeskryflik.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'