MOSSELBAAI NUUS - 'n Eienaardige dassie wat 'n vrou se aandag getrek het tydens 'n onlangse staptog naby Pinnacle Point, het natuurkenners ook aan die gis gehad.
Die vrou, wat op Sondag, 8 April die St Blaize-roete, bekend daarvoor dat dassies oral op die rotse gewaar kan word, 'n foto van die vreemde dassie geneem het, het dit aan die Mossel Bay Advertiser gestuur om 'n verklaring vir die verskynsel te probeer kry.
Kenners van CapeNature aan wie die foto gestuur is het aanvanklik bespiegel dat die dassie albinisme het, vandaar die ligte oë wat gewoonlik sonsensitief is. Dit is ook 'n moontlike verklaring vir die sonskade merkbaar op die dassie se snoet.
Daar is ook genoem dat die dassie moontlik 'n kleurvariasie genaamd melanisme het.
Plaaslike natuurkenner en veearts, dr Frans de Graaff is van mening dat die dassie 'n gedeeltelike leukistiese kleurvariasie van die normale voorkoms het.
Volgens dr De Graaff word daar deesdae al hoe meer voëls, selfs bosbokke met die bepaalde afwyking waargeneem.
Dr de Graaff sê dat die verskynsel beslis al hoe meer algemeen raak, maar dat die oorsaak daarvan onbekend is. Hy noem dat die verskynsel moontlik deur klimaatsverandering of toksiene wat die diere se genetika aantas, veroorsaak kan word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'