MOSSELBAAI NUUS - Die ma van die 10-jarige Danté Hageman wat op 10 Februarie 2012 op die hoek van Louis Fourieweg en Kaap de Goedelaan by die Hartenbos-kruising in 'n ongeluk gesterf het, sê sy is geskok om te hoor die bestuurder van die voertuig, Friedl Roller (49) onlangs op parool vrygelaat is.
Roller, wie se bloed-alkoholvlak dié aand ver bo die limiet was, het vanaf Mosselbaai in die rigting van Hartenbos oor verskeie rooi verkeersligte en stopstrate gejaag en boonop aan die verkeerde kant van die pad gery.
Sy voertuig het met dié van Jaco van Wyk gebots waarin Sonja-Monique van Wyk (11), Danté Hageman (10) en Janika van Wyk (7) insittendes was.
Sonja-Monique en Danté is in die ongeluk oorlede en Jaco en Janika ernstig beseer.
Sonja-Monique van Wyk
Roller was 40-jaar oud toe hy in November 2012 in die Mosselbaai-streekhof tot 14 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis is. Hy het die laaste paar jaar sy straf by die korrektiewe sentrum in George uitgedien.
Vrylating
Debbie Nel, Danté se ma woon steeds op Hartenbos. Sy sê sy voel die stelsel van die departement van korrektiewe dienste het haar in die steek gelaat.
"Die departement het die afgelope drie jaar my genader om te vra of ons toestemming sal gee dat Roller op parool vrygelaat word. Ek het elke keer nee geantwoord omdat ek voel hy sy volle straf moes uitdien."
Nel sê sy het gedurende die afgelope paar jaar met Roller by wyse van briewe gekorrespondeer.
"Ek het hom nog nooit gehaat vir wat hy gedoen het nie. Al wat ek wou gehad het is reg en regverdigheid. Ek het egter gevoel dat hy sy volle straf moes uitdien en om ons nie in kennis te stel van sy parool nie is nie reg of regverdig nie."
Sy sê sy en Danté se pa, Mark Hageman, het intussen uitgevind dat Roller in Junie vanjaar op parool vrygelaat is.
"Jaco (Sonja-Monique van Wyk se pa) het die korrektiewe dienste gekontak en volgens hulle het een van ons toestemming gegee. Ons het egter nie."
"My vriendin het die korrektiewe dienste geskakel en dit is aan haar bevestig."
Die Mossel Bay Advertiser het navrae aan die departement van korrektiewe dienste gerig en het teen die ter perse gaan nog nie terugvoering ontvang nie.
Teen spertyd kon die Advertiser nog nie met die Van Wyk-familie in verbinding tree nie.
Debbie Nel, ma van die 10-jarige Danté Hageman wat op 10 Februarie 2012 oorlede is.
Pistorius-saak
Intussen is die departement van korrektiewe dienste onder die vergrootglas nadat dit verlede week bekend geraak het dat die paroolraad wat by die Oscar Pistorius saak betrokke is, 'n week voor die raad sou sit, eers die oorledene, Reeva Steenkamp se ouers ingelig het dat daar reeds met die proses begin is om hom op parool vry te laat.
Pistorius dien tans 13 jaar tronkstraf uit vir die moord op Steenkamp in 2013.
* Voor die paroolraad sit om 'n gevangene se vrylating te bespreek, moet die slagoffer of slagoffer se familie eers skriftelik in kennis gestel word dat die proses gaan begin. Die kennisgewing moet reeds 30 dae vooraf uitgereik word. Die familie moet die geleentheid gebied word om deel te wees van 'n dialoog en verskeie verslae moet eers opgestel word en aan die raad voorgelê word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'