MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit bedank alle inwoners, deelnemers en besoekers vir hul goeie ondersteuning van en deelname aan die onlangse, sesde Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees asook die Kwêla Dorp van die Jaar-Makietie en die voorafgaande veldtog wat Mosselbaai hierdie gesogte status besorg het.
"Baie dankie vir almal se ondersteuning wat bygedra het tot die sukses van beide feeste, veral aan al die borge vir die finansiële hulp," sê Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal.
Sportfees
Die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees, wat vanaf 22 September – 7 Oktober plaasgevind het, het meer as 5 000 deelnemers en besoekers gelok.
Benewens die meer as 30 verskillende sportkodes wat by verskeie geleenthede oor twee weke regoor die dorp gekompeteer het, was van die hoogtepunte die PetroSA-wedloop, Moss March-pretstap, Motorsport-gymkhana, Better Together-spele, KFC-skolekrieketfees en Madibaz Bestmed-skoleatletiekbyeenkoms.
Raadsheer Harry Levendal sê die sukses van beide die feeste was ‘n ekonomiese stimulus vir die dorp.
“Die hoofdoel van die Sportfees om ‘n gesonde leefstyl te bevorder en die plaaslike ekonomie ‘n hupstoot te gee wat moontlike toekomstige gunstige ontwikkelings- en beleggingsgeleenthede kan skep.”
Makietie
Die Kwêla Dorp van die Jaar-Makietie om Mosselbaai se wendorpstatus te vier is ter afsluiting van die Sportfees gehou te midde van ‘n feestelike stemming.
Mosselbaai-munisipaliteit bedank almal wat bygedra het tot die voorkeurtoekenning deur vir die dorp te stem, asook diegene wat die volgepakte program bygewoon en ondersteun het.
"Dankie ook aan die onderskeie borge, onder meer die Wes-Kaapse regering, Garden Route Casino Community Trust, Mossel Bay Advertiser en Eden FM vir die Sportfees, en onder meer ook Kwêla, Kia, Afrikaans.com, Mosselbaai Toerisme, weer eens die Mossel Bay Advertiser, De Bakke Santos-oord, SFM, individuele sakemense en al die ander borge, vennote en rolspelers wat bygedra het tot die sukses van Kwêla Dorp van die Jaar-Makietie."
‘n Insetsel van die Kwêla Dorp van die Jaar-Makietie word op Sondag, 22 Oktober om 20:00 op kykNET, kanaal 144 uitgesaai.
Beplan gerus nou reeds vir die Diasfees wat in Februarie 2018 gehou gaan word.
Lees 'n vorige artikel: Mosselbaai makietie alte lekker
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'