MOSSELBAAI NUUS - Ten spyte van die koue het die harte warm geklop tydens die Kom Tuis-Christengemeente se onlangse insameling vir droogtegeteisterde landbouers van veral die Boesmanland.
"Benewens die droeë proviand waarvoor ons gevra het, het die gemeenskap ruim in kontant bygedra en het ons net meer as R20 000 ingesamel.
Ons spreek veral ons dank uit teenoor die lidmate van die Methodiste-kerk wat met ons hande gevat het en in die lofprysing gedeel het," sê ds Gielie Joubert.
Die insamelingsprojek gaan voort en 'n datum vir die besoek aan die Richtersveld sal sodra dit bevestig is, bekend gemaak word. Tot dan, is die stoorruimte van JK Steel steeds beskikbaar om droogtehulp te stoor en enige bydraes sal hoog op prys gestel word.
Die Burre Burger NPC daag alle kerke en kerkgroepe in Suid Afrika uit om betrokke te raak met hulpleniging aan landbouers van regoor die land. Groot dele van die land gaan gebuk onder 'n ongekende droogte en landbouers, plaaswerkers en plattelandse gemeenskappe se swaarkry kan in woorde nie beskryf word nie.
Enige navrae kan gerig word aan Theuns Kritzinger (082 376 5115) of ds Gielie (072 137 3535). Kontantdonasies is welkom en kan 'n groot bydrae maak om veral brandstofkoste om donasies af te gee, te delg.
Lees 'n verwante artikel hier: Kerke uitgedaag om omgee te toon
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'