MOSSELBAAI NUUS - Op Saterdag, 9 Maart hou die Afrikaanse Protestantse Kerk hul immergewilde dankfees in die gemeenskapsaal op die hoek van Impalaweg en De Jagerstraat (agter die NG-Kerk) in Reebok.
Dit beloof om weer eens 'n heerlike feesgeleentheid te wees met 'n lewendige orkes en baie tafels waar almal hul gunsteling-geregte teen sakpaspryse kan koop.
'n Ruim verskeidenheid van smullekker geregte word weer vanjaar aangebied. "Ons kerrie-en-rys was nog altyd 'n gesprekspunt want dit word voorberei deur 'n gekwalifiseerde sjef. Agter die pannekoektafels het ons ook 'n formidabele egpaar wat wéét van pannekoek bak. Ons hamburgers het al legendaries geword en dié keer word dit voorberei deur iemand wat haar lewe lank in die spysenieringsbedryf was. Dis ook nie nodig om tydens rugby te braai nie; kom koop u klaargaar tjops en wors by ons bobaas-braaiers en beïndruk u gaste. Die poedingtafel is, soos altyd, soet en sag op die oog. Ook hier net die beste en lekkerste. Dan is daar nog die warmbrakke (hotdogs) en sosaties vir die hongerhoekies.
"Kom ontspan in ons teetuin met 'n lekker koppie koffie en 'n rojale stuk koek teen die laagste pryse in die dorp. Loop 'n draai by die witolifanttafel waar enigiets vanaf 'n anker tot 'n dooie poliesman vir u deur te koop aangebied word.
Laat u kinders self uitkies by die allerlei-tafel waar die verrassings opgestapel lê."
Die dankfees begin amptelik om 10:00 en duur tot 14:00 (of sodra alles uitverkoop is).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'