Lennis van Schalkwyk het op Saterdag, 28 Junie só saamgekuier met sy ou kamerade tydens die 40ste reünie van SANAE 15, waartydens hy as gletserkundige 14 maande in Antartika spandeer het.
Hy en 'n mede-ekspedisielid, Gerhard Cillie, het 'n boek geskryf oor hulle wedervaringe, naamlik SANAE 15 – Antarktika – Deserta et intactum – Verlate en Ongerep, soos berig is in die Mossel Bay Advertiser van 27 Junie.
Nie net is die Midwinterfees van die Suid-Afrikaanse Antarktiese Klub tydens die geleentheid in Pretoria gevier nie, maar dit het ook gedien as amptelike boekbekendstelling.
"Almal wat in Antarktika oorwinter het, 'kwalifiseer' om deel van dié klub te wees," skerts Lennis.
Hy verduidelik dat die midwinter 'n besonderse betekenis het in Antarktika. "Dit beteken die terugkeer van die son en die vooruitsig van 'n eer-ste sonsopkoms oor 'n paar maande!"
Kopieë van die boek is geskenk aan die Antarktiese Klub, professor Christoff Zietsman en Hananje van Biljon, die mede- skrywer Gerhard Cillié se dogter, wat onderskeidelik vir die redigering en stilering en grafiese ontwerp was.
Die hoogtepunt tydens die skenkingsgeleentheid was om 'n kopie van die boek aan Marten du Preez te oorhandig. Du Preez was lid van die heel eerste SA ekspidisie (SANAE 1) as radio-operateur in 1960. Later was hy vir 'n tweede termyn na Antarktika toe in 1962 as leier van SANAE 3.
"Die geleentheid was 'n reusesukses en ons het baie komplimente vir die boek ontvang, veral aangesien daar geen soortgelyke boek oor die SA Ekspidisies na Antarktika toe, bestaan nie," sê Lennis.
'n Persentasie van die verkope van die boek sal geskenk word aan SAPREC, die pikkewyn- en seevoëlrehabilitasiesentrum in Mossdustria.
Enige belangstellendes wat graag meer oor Lennis se wedervaringe te wete wil kom, kan hom kontak by lennisvs@gmail.com.
Die 55e SANAE Ekspidisie is tans in Antarktika.
Oud-ekspedisielede van SANAE 15, insluitend Lennis van Schalkwyk (heel regs) van Danabaai, hou hulle 40ste reunie by die Suid-Afrikaanse Antarktiese Klub. Hier het hulle hul destydse uitrustings aan wat die koue moes afweer. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'