MOSSELBAAI NUUS - Die naaste wat etlike Mosselbaaiers dalk hierdie naweek te midde die nuwe alkoholverbod aan 'n ou drinkdingetjie sal kom, is waarskynlik Chris Meyer van Danabaai se jongste boek, Die Drank Duiwel.
Dit is ook nie die eerste keer dat Meyer publiseer nie.
Die Mossel Bay Advertiser het voorheen berig oor sy boek met die Spaanse Griep van meer as 'n eeu gelede as tema. Hy het ook die Meyers van Suid-Afrika se geskiedenis te boek gestel.
In sy jongste poging, Die Drank Duiwel, saal hy 'n heel nuwe perd op. Reeds in die voorwoord, besef die leser terdeë dat hier 'n prettige leesreis voorlê. Die humor blyk veral uit die eerste hoofstukke van die boek, geskryf in "interessante, veelkleurige staaltjietrant", soos 'n resensie van die boek aandui.
In die boek deel die hoofkarakter sy wedervaringe met alkohol.
Die boek het ook 'n goeie skeut avontuur, wat waarskynlik aanklank by die manne sal vind. Nie dat vrouelesers enigsins uitgesluit behoort te voel nie, veral as dit by die saamlag kom.
"Ek sou dit ook aanbeveel vir tienerseuns, vanweë die boek se inherente boodskap dat alkohol dalk op die oog af na pret en plesier lyk, maar jou lewe vinniger as wat jy dink op so 'n manier kan beïnvloed dat daar nie omdraaikans is nie," meen gepubliseerde skrywer, Marilize Swart, wat die boek geresenseer het.
Sy het ook na die skryfstyl verwys as "vars" en die stories "geloofwaardig".
"Die boek is net lank genoeg om jou lus te maak vir nog. Ek sou graag nog werke uit die skrywer se pen wou sien."
Meyer sê hy het die idee vir die boek gekry toe hy aan 'n paar kleurryke staaltjies uit die verlede gedink het, maar desnieteenstaande is die boek grotendeels fiksie.
Of daar nog 'n boek in sy pen skuil, sal die tyd moet leer.
Meyer bemark sy boek self. Enigiemand wat meer oor sy skryfprojek wil weet, kan hom kontak (044 698 1154).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'