MOSSELBAAI NUUS - Danabaai spog met die eerste waterbessiebome, wat aangeplant is as deel van die Mosselbaai-munisipaliteit se vergroeningsveldtog gedurende Boomplantmaand. Dié bome is op Vrydag, 25 Augustus, geplant.
Volgens direkteur Elize Nel van gemeenskapsdienste, was die parkespan vanweë die groot aantal bome wat geplant moet word, genoop om ‘n week vóór Boomplantmaand amptelik ‘n aanvang neem, te begin plant.
Die 10 waterbessiebome wat verlede week by die Danabaai-gemeenskapsaal geplant is, sal aangevul word met nóg bome op dieselfde perseel.
Sowat 600 bome sal tot en met einde September deur die munisipale spanne aangeplant word, terwyl die munisipaliteit se gekontrakteerde span, ongeveer 950 inheemse bome binne die groter Mosselbaai sal plant. Van die laasgenoemde, sal sowat 300 bome in Sonskynvallei alleen aangeplant word.
Raadslid Nickey le Roux (Wyk 11) het die parkespan by die Danabaai-gemeenskapsaal verwelkom en hulle hartlik bedank vir hulle toewyding tot die vergroening van Mosselbaai.
Vergroening is een van die Raad se strategiese doelwitte wat met ywer nagejaag word deur die aanplant van bome. Direkteur Nel het bevestig dat daar deur die loop van September, elke Vrydag boomplantgeleenthede gehou sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’